Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

GEORGIË

“By God is alles moontlik”

Natela Grigoriadis

“By God is alles moontlik”
  • GEBORE 1960

  • GEDOOP 1987

  • PROFIEL Kort nadat Natela gedoop is, het sy haar ondervinding en sake-kontakte as ’n bemarkingsbestuurder gebruik om met die ondergrondse drukwerk te help.

BY ONS vergaderinge in die laat 1980’s het net die Wagtoring-studiehouer ’n kopie van Die Wagtoring gehad, wat gewoonlik met die hand oorgeskryf is. Ek het na Genadi Goedadze, een van die ouer manne, gegaan en voorgestel dat ons ons eie tydskrifte moet druk.

Op daardie stadium het die broers ’n tuisgemaakte mimeograaf gebruik om ’n klein hoeveelheid publikasies te vervaardig. Om tydskrifte gereeld te kopieer, het hulle ’n beter mimeograaf, ’n ervare tikster, ’n tikmasjien en genoeg papier nodig gehad. Maar al die druktoerusting, selfs die papier, is by die regering geregistreer en deur die spesiale veiligheidsdienste beheer.

Ek het ’n tikmasjien gekry by iemand wat ek deur my werk leer ken het. Hy het toegang gehad tot tikmasjiene wat nie meer deur die regering gebruik is nie. My suster was ’n tikster en kon ons help. Die broers het ’n nuwe mimeograaf gebou en het ’n plek gekry waar hulle papier kon koop. Alles het mooi uitgewerk, en kort voor lank het ons die eerste kopie van Die Wagtoring in Georgies vervaardig.

Maar ’n nuwe probleem het kop uitgesteek. Eendag het Genadi vir my gesê: “Ons moet ’n ander plek kry waar ons papier kan koop.” Hy het pakke papier by ’n staatsbeheerde kantoor gesien. Maar hy kon dit nie koop nie omdat hy deur die regering dopgehou is. Wat sou ons doen? Ek het oor en oor gesê: “Dis onmoontlik!” Genadi het dan geantwoord: “Hou op om dit te sê. ‘By God is alles moontlik!’”—Matt. 19:26.

Ek was senuweeagtig en het heeltyd aan sy woorde gedink toe ek die volgende dag na die staatsbeheerde kantoor gegaan het. Jehovah het my gerig na ’n vriendelike sekretaresse wat bereid was om my versoek na die hoof van die kantoor te stuur. Hy was haar man! Kort voor lank het ek gereeld papier by hierdie kantoor gekoop, en daarna het ons nooit weer gesukkel om voorraad in die hande te kry nie.