Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Pionierdiensskool naby Zoegdidi

GEORGIË | 1998-2006

Seëninge ‘in gunstige tye en in moeilike tye’.—2 Tim. 4:2.

Seëninge ‘in gunstige tye en in moeilike tye’.—2 Tim. 4:2.

VANAF die laat 1990’s was daar ’n groot toename in die aantal verkondigers en belangstellendes in Georgië. In 1998 het 32 409 mense die Herdenking van Christus se dood bygewoon.

Maar baie verkondigers, en selfs die ouer manne, was redelik nuut in die waarheid en het nie baie ondervinding gehad nie. Die meeste van hulle het opleiding in geestelike bedrywighede nodig gehad. Maar hoe sou sulke opleiding voorsien word?

Jehovah se organisasie gee meer ondersteuning

Arno en Sonja Tüngler, wat by die Gileaduitbreidingskool in Duitsland opgelei is, is in Maart 1998 na Georgië gestuur. Dieselfde jaar het die Bestuursliggaam besluit dat ’n landskantoor in Georgië oopgemaak moet word, wat onder die leiding van die takkantoor in Rusland sou wees.

’n Landskomitee het kort voor lank begin om oor die predikingswerk toesig te hou. Toe ons bedrywighede wettig geregistreer is, is Bybellektuur direk van die takkantoor in Duitsland af ingevoer. Wetlike erkenning het dit ook vir ons moontlik gemaak om eiendom te koop sodat Koninkryksale en takfasiliteite daarop gebou kon word.

’n Tyd van geestelike opleiding

Baie verkondigers kon nie vryelik van deur tot deur preek gedurende die jare toe die Sowjet-regering ons werk verbied het nie. Arno Tüngler vertel: “Die meeste verkondigers het baie straatgetuieniswerk gedoen, maar nie almal was daaraan gewoond om van deur tot deur te gaan en om belangstelling op te volg nie.”

Arno en Sonja Tüngler

Dawit Dewidze, wat in Mei 1999 in die pas gestigte landskantoor begin dien het, sê: “Daar was baie om te doen in die veld en by Bethel. Daar was dinge waaroor ons gelees het, maar ons het geen idee gehad hoe om dit te doen nie. Daarom het ons die ervare broers wat deur die Bestuursliggaam gestuur is, dopgehou en by hulle geleer.”

’n Tyd van intensiewe opleiding het vir die broers in Georgië begin. Soos dikwels die geval is met dié wat na plekke trek waar daar hulp nodig is, het die opleiding wat hulle ontvang het, almal bevoordeel (Spr. 27:17). Diegene wat kom help het, het ook baie by die plaaslike broers en susters geleer.

Die plaaslike Getuies betoon liefde

Arno en Sonja het mooi herinneringe van hoe die broers hulle welkom laat voel het toe hulle in Georgië aangekom het. Die plaaslike broers en susters het hulle bes gedoen om hulle te help om by hulle nuwe toewysing aan te pas.

Sonja onthou hoe vrygewig hulle was. Sy vertel: “’n Egpaar wat naby ons gewoon het, het gereeld vir ons lekker kos gebring. ’n Suster het ons in velddiens uitgeneem, ons aan ons nuwe gemeente voorgestel en ons baie geleer oor die Georgiese kultuur. ’n Ander suster het ons geduldig geleer om Georgies te praat.”

Warren en Leslie Shewfelt, wat in 1999 van Kanada na Georgië gestuur is, het gesê: “Ons is diep geraak deur die liefde wat ons Georgiese broers en susters betoon het. Hulle almal, insluitende die jongmense, was nie bang om hulle gevoelens en liefde vir mekaar te wys nie.”

Plaaslike broers het saam met ervare sendelinge by die landskantoor gedien

Diegene wat van ander lande na Georgië gestuur is, het nie op die uitdagings gefokus nie, maar eerder op die goeie eienskappe van die plaaslike mense. En omdat die sendelinge ’n nederige en liefdevolle gesindheid gehad het, het die Georgiese broers gou vir hulle lief geraak.

Godvresende mense reageer op die waarheid

Regdeur die 1990’s het talle opregte mense aangehou om op die waarheid te reageer. In 1998 alleen is 1 724 mense gedoop. Wat het soveel Georgiërs gemotiveer om in die waarheid belang te stel?

Tamazi Biblaia, wat jare lank as ’n reisende opsiener gedien het, verduidelik: “Mense het grootgeword met ’n liefde vir God. Wanneer ons dus vir hulle van die Bybel se boodskap vertel het, was dit vir hulle natuurlik om daarop te reageer.”

Dawit Samcharadze, wat ’n instrukteur is in die Skool vir Koninkrykspredikers, sê: “Wanneer ’n persoon die Bybel begin studeer, meng familie en bure dikwels in. Maar wanneer hulle die student probeer oortuig om nie die Bybel te studeer nie, is die gevolg gewoonlik dat hulle self die Bybel begin studeer!”

Die Koninkryksboodskap het versprei en het die lewe van baie mense verander. In April 1999 was daar ’n nuwe hoogtepunt toe 36 669 mense die Gedenkmaal bygewoon het.

“Daar is baie teenstanders”

Die apostel Paulus het oor sy predikingswerk in eertydse Efese geskryf: “’n Groot deur wat tot bedrywigheid lei, is vir my oopgemaak, maar daar is baie teenstanders” (1 Kor. 16:9). Sy woorde het die situasie van die Getuies in Georgië ’n paar maande ná die merkwaardige Gedenkmaal van 1999, goed beskryf.

In Augustus van daardie jaar is ’n optog in Tbilisi gereël deur lede van ’n ekstremistiese Ortodokse groep wat gelei is deur Wasili Mkalawisjwili, ’n priester wat uit sy amp onthef is. Hulle het ons lektuur in die openbaar verbrand. Dit het tot vreeslike vervolging gelei wat vier jaar lank aangehou het.

Vanaf 1999 het Jehovah se Getuies in Georgië die slagoffers van optogte en aanvalle geword. Hulle lektuur is ook verbrand

Op 17 Oktober 1999 het godsdiens-ekstremiste ’n oproerige skare van omtrent 200 mense byeengeroep. Hulle het ’n vergadering van die Gldani-gemeente in Tbilisi ontwrig. Hulle het houtstokke en ysterkruise gebruik om die Getuies aan te rand, en baie Getuies het in die hospitaal beland.

Ongelukkig is die aanvallers nie gearresteer nie, en die aanvalle teen die Getuies het aangehou. ’n Hele paar regeringsamptenare, insluitende president Sjewardnadze, het hierdie gewelddadige aanvalle sterk veroordeel, maar niks is daaroor gedoen nie. Om die waarheid te sê, die polisie het gewoonlik eers lank ná ’n aanval opgedaag.

Ongeveer dieselfde tyd het ’n lid van die Georgiese parlement, Goeram Sjaradze, ’n ongewone veldtog teen die Getuies begin voer en hulle swartgesmeer. Hy het die Getuies daarvan beskuldig dat hulle gevaarlik is. Dit het gelyk asof die “gunstige tye” vir die predikingswerk iets van die verlede was.

Jehovah se organisasie reageer op die teenstand

Jehovah se organisasie het vinnig in die behoeftes van die Getuies in Georgië voorsien. Die broers het liefdevolle leiding ontvang oor hoe hulle moet optree as hulle aangeval word. En hulle is herinner aan die redes waarom ware Christene soms vervolg word.—2 Tim. 3:12.

Jehovah se organisasie het ook regstappe geneem om ons broers in die hof te verdedig. ’n Broer wat in die Regsafdeling van die takkantoor in Georgië gedien het, sê: “Gedurende daardie vier jaar het ons meer as 800 aanklagte ingedien in reaksie op wat Wasili Mkalawisjwili se groep gedoen het. Ons het amptenare en menseregte-organisasies gevra om ons te help. Die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies het ’n groot publisiteitsveldtog georganiseer, maar niks het die aanvalle laat ophou nie.” *

^ par. 30 Vir meer inligting oor die regstryd vir die erkenning van ons regte, sien die Ontwaak! van 22 Januarie 2002, bladsye 18-24.