Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 25

Raad oor geloof, gedrag en liefde

Raad oor geloof, gedrag en liefde

Jakobus, Petrus, Johannes en Judas skryf briewe om medegelowiges aan te moedig

JAKOBUS en Judas was halfbroers van Jesus. Petrus en Johannes was twee van Jesus se 12 apostels. Hierdie vier manne het altesaam sewe briewe geskryf, wat in die Christelike Griekse Geskrifte gevind word. Elkeen van die briewe dra die naam van die skrywer. Die geïnspireerde vermanings in hierdie briewe was bedoel om Christene te help om hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf en God se Koninkryk voor oë te hou.

Openbaar geloof. Dit is nie genoeg om net te sê dat ’n mens geloof het nie. Ware geloof lei tot dade. “Ja”, skryf Jakobus, “geloof sonder werke [is] dood” (Jakobus 2:26). As ’n mens in geloof optree wanneer jy beproewinge verduur, bou dit volharding op. Om sukses te behaal, moet ’n Christen God vir wysheid vra, met die vertroue dat God dit aan hom sal gee. Volharding bring God se goedkeuring mee (Jakobus 1:2-6, 12). As ’n aanbidder sy onkreukbaarheid in geloof handhaaf, sal Jehovah God daarop reageer. “Kom nader aan God”, sê Jakobus, “en hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 4:8.

’n Christen se geloof moet sterk genoeg wees om hom te help om versoekings en onsedelike invloede te weerstaan. Weens die slegte sedelike milieu wat destyds geheers het, het Judas sy medegelowiges aangespoor om “hard te stry vir die geloof”.—Judas 3.

Handhaaf rein gedrag. Jehovah verwag van sy aanbidders om heilig, dit wil sê in alle aspekte rein, te wees. Petrus skryf: “Word . . . self ook in julle hele gedrag heilig, want daar staan geskrywe: ‘Julle moet heilig wees, want ek [Jehovah] is heilig’” (1 Petrus 1:15, 16). Christene het ’n navolgenswaardige voorbeeld. “Christus het vir julle gely”, sê Petrus, “en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Hoewel Christene dalk sal ly omdat hulle God se standaarde handhaaf, behou hulle “’n goeie gewete” (1 Petrus 3:16, 17). Petrus spoor Christene aan om oorvloedig te wees in heilige gedrag en dade wat godvrugtige toegewydheid weerspieël terwyl hulle God se oordeelsdag en die beloofde nuwe wêreld waarin “regverdigheid [sal] woon”, verwag.—2 Petrus 3:11-13.

“Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 4:8

Toon liefde. “God is liefde”, skryf Johannes. Die apostel wys daarop dat God sy groot liefde getoon het deur Jesus as ’n “soenoffer vir ons sondes” te stuur. Hoe moet Christene reageer? Johannes verduidelik: “Geliefdes, as dit is hoe God ons liefgehad het, dan staan ons ook onder verpligting om mekaar lief te hê” (1 Johannes 4:8-11). Een manier om sulke liefde te toon, is deur gasvry te wees teenoor medegelowiges.—3 Johannes 5-8.

Maar hoe kan aanbidders van Jehovah hulle liefde vir hom toon? Johannes antwoord: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3; 2 Johannes 6). Diegene wat God op hierdie wyse gehoorsaam, het die versekering dat hulle altyd God se liefde sal geniet “met die ewige lewe in die vooruitsig”.—Judas 21.

—Gebaseer op Jakobus; 1 Petrus; 2 Petrus; 1 Johannes, 2 Johannes; 3 Johannes; Judas.