Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 102

Die openbaring aan Johannes

Die openbaring aan Johannes

Terwyl die apostel Johannes ’n gevangene op die eiland Patmos was, het Jesus vir hom 16 visioene, of prente, oor die toekoms gewys. Hierdie visioene het gewys hoe Jehovah se naam geheilig sou word, hoe sy Koninkryk sou kom en hoe sy wil op die aarde sou plaasvind net soos in die hemel.

In een van die visioene sien Johannes vir Jehovah op sy glorieryke troon in die hemel. Hy is omring deur 24 ouderlinge wat wit klere dra en krone op hulle koppe het. Weerligstrale en die geluid van donderweer kom van die troon af. Die 24 ouderlinge buig voor Jehovah neer en aanbid hom. In ’n ander visioen sien Johannes ’n groot groep mense uit al die nasies, volke en tale wat Jehovah aanbid. Die Lam, wat Jesus is, lei hulle soos ’n herder na die water van die lewe. Later, in ’n ander visioen, begin Jesus as Koning in die hemel saam met die 24 ouderlinge regeer. In die volgende visioen sien Johannes hoe Jesus teen die draak, wat Satan is, en sy demone, baklei. Jesus gooi hulle uit die hemel uit na die aarde toe.

Toe sien Johannes ’n pragtige prentjie van die Lam en die 144 000 wat op die berg Sion staan. Hy sien ook ’n engel wat regoor die wêreld vlieg en vir mense sê om God te vrees en aan Hom heerlikheid te gee.

In die volgende visioen vind die oorlog van Armageddon plaas. In daardie oorlog wen Jesus en sy leërmag teen Satan en sy bose stelsel. In die laaste visioen sien Johannes volmaakte eenheid in die hemel en op die aarde. Satan en almal wat hom volg, is heeltemal vernietig. Almal in die hemel en op die aarde beskou Jehovah se naam as heilig en aanbid hom alleen.

“Ek sal vyandskap laat ontstaan tussen jou en die vrou en tussen jou nageslag en haar nageslag. Hy sal jou kop vergruis, en jy sal hom in die hakskeen wond.”—Genesis 3:15