LES 29
Wat gebeur wanneer ons sterf?
Het jy al iemand vir wie jy baie lief is, in die dood verloor? Op so ’n moeilike tyd wonder jy dalk: ‘Wat gebeur wanneer ons sterf? Sal ons ooit die mense vir wie ons lief is, weer sien?’ In hierdie les en die volgende sal ons kyk na die Bybel se vertroostende antwoorde.
1. Wat gebeur wanneer ons sterf?
Jesus het die dood met ’n diep slaap vergelyk. ’n Persoon wat in ’n diep slaap is, weet nie wat rondom hom gebeur nie. Hoe is die dood soos slaap? Nadat iemand gesterf het, voel hy nie enige pyn nie. Hy voel nie eensaam nie, maak nie saak hoe lief hy vir sy vriende en familie was nie. Die Bybel sê: “Die dooies weet absoluut niks nie.” – Lees Prediker 9:5.
2. Hoe help dit ons wanneer ons die waarheid oor die dood weet?
Baie mense is bang om dood te gaan – en selfs bang vir die dooies! Maar jy kan vertroos word deur wat die Bybel oor die dood sê. Jesus het gesê: “Die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Party godsdienste leer dat ’n persoon ’n siel het wat aanhou lewe nadat hy gesterf het, maar dit is nie wat die Bybel leer nie. So niemand ly nadat hulle gesterf het nie. En omdat die dooies nie van enige iets weet nie, kan hulle niks slegs aan ons doen nie. Daarom hoef ons nie die dooies te aanbid of dinge te doen sodat hulle nie vir ons kwaad sal wees nie, en ons hoef ook nie vir hulle te bid nie.
Party mense sê dat hulle met die dooies kan kommunikeer. Maar dit is onmoontlik. Ons het nou net geleer dat die dooies “absoluut niks [weet] nie”. Mense wat dink dat hulle kommunikeer met familie en vriende wat gesterf het, kommunikeer dalk eintlik met demone wat maak asof hulle mense is wat gesterf het. So wanneer ons weet wat die waarheid oor die dood is, beskerm dit ons teen die demone. Jehovah waarsku ons en sê dat ons nie met die dooies moet probeer kommunikeer nie, want hy weet dat kontak met die demone vir ons sleg sal wees. – Lees Deuteronomium 18:10-12.
SOEK DIEPER
Leer meer oor wat die Bybel sê oor die dood, en versterk jou geloof in ’n liefdevolle God wat nie dié wat gesterf het, straf nie.
3. Leer wat die toestand van die dooies regtig is
Regoor die wêreld glo mense verskillende dinge oor wat gebeur wanneer ons sterf. Maar al daardie dinge kan natuurlik nie waar wees nie.
-
Wat glo mense oor die algemeen oor die toestand van die dooies in die gebied waar jy bly?
Om te sien wat die Bybel leer, speel die VIDEO.
Lees Prediker 3:20, en bespreek dan hierdie vrae:
-
Volgens hierdie vers, wat gebeur wanneer ’n persoon sterf?
-
Is daar enige deel van ’n persoon wat aanhou lewe nadat hy gesterf het?
Die Bybel vertel ons van die dood van Lasarus, ’n goeie vriend van Jesus. Lees Johannes 11:11-14, en kyk wat Jesus gesê het oor Lasarus se toestand. Bespreek dan hierdie vrae:
-
Waarmee het Jesus die dood vergelyk?
-
Wat wys hierdie vergelyking vir ons oor die toestand van die dooies?
-
Hoe voel jy oor wat die Bybel sê oor die dood?
4. Die waarheid oor die dood help ons
Wanneer ons weet wat die waarheid oor die dood is, help dit ons om nie bang te wees vir die dooies nie. Lees Prediker 9:10, en bespreek dan hierdie vraag:
-
Kan die dooies iets slegs aan ons doen?
Die waarheid in die Bybel beskerm ons ook teen die leuen dat die dooies aanbid moet word of dat ons dinge vir hulle moet doen sodat hulle nie kwaad word vir ons nie. Lees Jesaja 8:19 en Openbaring 4:11, en bespreek dan hierdie vraag:
-
Hoe dink jy voel Jehovah oor ’n persoon wat die dooies aanbid of wat hulle hulp vra?
5. Die waarheid oor die dood vertroos ons
Baie mense is geleer dat hulle gestraf sal word vir die slegte dinge wat hulle gedoen het wanneer hulle doodgaan. Maar dit vertroos ons om te weet dat niemand ly nadat hy gesterf het nie – nie eers iemand wat baie slegte dinge gedoen het nie. Lees Romeine 6:7, en bespreek dan hierdie vraag:
-
Die Bybel sê dat God ’n persoon vryspreek van sy sondes, of vergewe vir sy sondes, wanneer hy sterf. So dink jy dat enige iemand wat gesterf het, ly as gevolg van foute wat hy in die verlede gemaak het?
Hoe beter ons Jehovah leer ken, hoe meer sal ons besef dat hy nooit sal toelaat dat die dooies ly nie. Lees Deuteronomium 32:4 en 1 Johannes 4:8, en bespreek dan hierdie vrae:
-
Sal ’n God met die eienskappe wat in hierdie verse genoem word, ooit toelaat dat dié wat gesterf het, op ’n wrede manier ly?
-
Vertroos dit jou om die waarheid oor die dood te weet? Hoekom?
PARTY MENSE SÊ: “Ek’s bang vir wat met my sal gebeur wanneer ek sterf.”
-
Watter vertroostende Bybelverse kan jy vir die persoon wys?
WAT ONS GELEER HET
Wanneer ’n persoon sterf, eindig sy lewe. Die dooies ly nie, en hulle kan ook nie slegte dinge aan die lewendes doen nie.
Hersiening
-
Wat gebeur wanneer ons sterf?
-
Hoe help die waarheid oor die dood ons?
-
Hoe vertroos die waarheid oor die dood ons?
LEER MEER
Kyk wat die woord “siel” regtig in die Bybel beteken.
Vind uit of God die hel gebruik om slegte mense te straf.
Is die hel ’n regte plek waar mense wreed gestraf word? (3:07)
Hoef ons ooit bang te wees vir die dooies?
Geeste van die dooies—Kan hulle jou help of jou skaad? Bestaan hulle werklik? (brosjure)
Vind uit hoe dit ’n man vertroos het toe hy geleer het wat regtig gebeur wanneer ons sterf.
“Die Bybel se duidelike, logiese antwoorde het my beïndruk” (Die Wagtoring, 1 Februarie 2015)