Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 18

Hoe help ons ons broers in nood?

Hoe help ons ons broers in nood?

Dominikaanse Republiek

Japan

Haïti

Wanneer ’n ramp plaasvind, reël Jehovah se Getuies onmiddellik dat hulp aan hulle broers in die geteisterde gebied voorsien word. Hierdie pogings lewer bewys van die egtheid van ons liefde vir mekaar (Johannes 13:34, 35; 1 Johannes 3:17, 18). Op watter maniere help ons?

Ons skenk geld. Toe ’n groot hongersnood Judea getref het, het vroeë Christene in Antiogië finansiële hulp aan hulle geestelike broers gestuur (Handelinge 11:27-30). Wanneer ons uitvind dat ons broers in ’n sekere deel van die wêreld ontberinge verduur, stuur ons eweneens bydraes deur middel van ons plaaslike gemeente om materiële hulp te voorsien aan dié wat in ernstige nood verkeer.—2 Korintiërs 8:13-15.

Ons verleen praktiese hulp. Die ouer manne in die rampgebied wend ’n poging aan om uit te vind waar elke gemeentelid is en om te verseker dat hulle veilig is. ’n Noodlenigingskomitee koördineer moontlik die voorsiening van voedsel, skoon drinkwater, klere, skuiling en mediese hulp. Baie Getuies met die nodige vaardighede bied vrywillig aan om op eie koste aan die noodlenigingswerk te gaan deelneem of om beskadigde huise en Koninkryksale te herstel. Die eenheid wat ons as ’n organisasie geniet en die ondervinding wat ons opgedoen het deur saam te werk, stel ons in staat om in tye van nood gou hulp te voorsien. Ons reik ’n helpende hand uit na “dié wat in die geloof aan ons verwant is”, maar ons help ook ander wanneer moontlik, ongeag aan watter godsdiens hulle behoort.—Galasiërs 6:10.

Ons bied geestelike en emosionele ondersteuning. Slagoffers van ’n ramp het vertroosting baie nodig. Gedurende hierdie tye vertrou ons op Jehovah, “die God van alle vertroosting”, vir krag (2 Korintiërs 1:3, 4). Ons vertel diegene wat in wanhoop verkeer, graag van die Bybel se beloftes en verseker hulle dat God se Koninkryk binnekort ’n einde sal maak aan al die tragedies wat pyn en lyding veroorsaak.—Openbaring 21:4.

  • Waarom kan die Getuies gedurende rampe vinnig reageer?

  • Watter geestelike vertroosting kan ons aan die oorlewendes gee?