VRAAG 2
Waarom is ek bekommerd oor my voorkoms?
WAT SOU JY DOEN?
Stel jou hierdie toneel voor: Wanneer Julia in die spieël kyk, sien sy net vet. “Ek moet gewig verloor”, sê sy vir haarself—al sê haar ouers en vriende dat sy “plankdun” is.
Julia het onlangs daaraan gedink om drastiese stappe te doen om “net twee kilogram te verloor”. Al wat sy moet doen is om haar ’n paar dae lank uit te honger . . .
Wat sou jy doen as jy soos Julia gevoel het?
STOP EN DINK!
Dis nie verkeerd om besorg te wees oor hoe jy lyk nie. Om die waarheid te sê, die Bybel sê goeie dinge oor die fisiese voorkoms van ’n hele paar vroue en mans, onder andere Sara, Ragel, Abigail, Josef en Dawid. Die Bybel sê dat ’n vrou met die naam Abisag “beeldskoon” was.—1 Konings 1:4.
Maar baie jongmense het ’n obsessie met hoe hulle lyk. Dit kan ernstige probleme veroorsaak. Dink hieraan:
-
In een studie het 58 persent van meisies gesê dat hulle oorgewig is, terwyl net 17 persent werklik oorgewig was.
-
In ’n ander studie het 45 persent van vroue wat eintlik ondergewig was, gedink dat hulle te veel weeg!
-
In hulle pogings om gewig te verloor, het party jongmense slagoffers geword van anoreksie—’n lewensgevaarlike eetversteuring wat in werklikheid selfverhongering is.
DIE BESTE VERBETERING WAT JY KAN MAAK!
Dit is die innerlike persoon wat bepaal of ’n mens aantreklik is of nie. Dink aan koning Dawid se seun Absalom. Die Bybel sê:
“Daar [was] in die hele Israel geen man so mooi dat hy soveel geprys is nie. . . . Daar [was] geen gebrek aan hom nie.”—2 Samuel 14:25.
Maar hierdie jong man was trots en ambisieus en was verraderlik! Daarom stel die Bybel Absalom beslis nie in ’n goeie lig nie; dit beeld hom eerder uit as ’n man van skaamtelose dislojaliteit en moorddadige haat.
Met goeie rede gee die Bybel ons die volgende raad:
“Beklee julle met die nuwe persoonlikheid.”—Kolossense 3:10.
‘Laat julle versiering nie uiterlik wees nie, maar laat dit die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees wees.’—1 Petrus 3:3, 4.
Daar is niks mee verkeerd om goed te wil lyk nie, maar jou persoonlikheid is baie belangriker as jou voorkoms. Op die lange duur sal jou prysenswaardige eienskappe jou vir ander aantrekliker maak as ’n sterk liggaam of ’n mooi figuur! “’n Mooi gesig word dikwels gou raakgesien”, sê ’n meisie met die naam Phylicia, “maar jou persoonlikheid en jou goeie eienskappe is wat mense die langste sal onthou.”
’N KYKIE NA JOU VOORKOMS
Is jy dikwels teleurgesteld met hoe jy lyk?
Het jy dit al ooit oorweeg om ’n fisiese defek met behulp van kosmetiese chirurgie of ’n streng dieet reg te stel?
Watter fisiese kenmerke sou jy wou verander as jy kon? (Kies dié wat van toepassing is.)
-
LENGTE
-
GEWIG
-
HARE
-
LIGGAAMSVORM
-
GESIG
-
GELAATSKLEUR
As jy op die eerste twee vrae ja geantwoord het en by die derde vraag drie of meer kenmerke genoem het, dink hieraan: Daar is ’n goeie kans dat ander nie so ’n negatiewe beskouing van jou het as wat jy van jouself het nie. Dit is maklik om oorboord te gaan en jou te veel te bekommer oor jou voorkoms.—1 Samuel 16:7.