Aan die Romeine 12:1-21
12 Broers, aangesien God genadig teenoor ons is, smeek ek julle om julle liggame aan te bied+ as ’n offerande wat lewend, heilig+ en vir God aanvaarbaar is. So doen julle heilige diens met julle denkvermoë.+
2 En moenie langer toelaat dat hierdie wêreld* julle vorm nie, maar verander julle denkwyse+ sodat julle aan julleself kan bewys+ wat die goeie en aanvaarbare en volmaakte wil van God is.
3 Want deur die onverdiende goedheid wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle om nie meer van homself te dink as wat nodig is nie,+ maar om op ’n manier te dink wat toon dat hy verstandig is,* elkeen volgens die geloof wat God hom gegee het.+
4 Ons liggaam bestaan uit baie ledemate,+ maar die ledemate het nie almal dieselfde funksie nie.
5 Net so is ons, al is ons baie, een liggaam in eenheid met Christus, maar afsonderlik is ons ledemate wat aan mekaar behoort.+
6 Ons het verskillende vermoëns* volgens die onverdiende goedheid wat aan ons gegee is.+ As ons kan profeteer, laat ons profeteer volgens die geloof wat aan ons gegee is.
7 As ons ander kan dien, laat ons dien. As iemand die vermoë het om ander te leer, laat hy aanhou onderrig.+
8 As iemand ander kan aanmoedig,* laat hy hulle aanmoedig.*+ As iemand kan gee,* laat hy dit vryelik doen.+ As iemand die leiding neem, laat hy dit ywerig* doen.+ As iemand genade kan betoon, laat hy dit vreugdevol doen.+
9 Laat julle liefde sonder skynheiligheid wees.+ Haat wat goddeloos is,+ hou vas aan wat goed is.
10 Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar. Neem die leiding* om eer aan mekaar te betoon.+
11 Wees hardwerkend,* nie lui nie.+ Gloei van die gees.+ Dien Jehovah* as slawe.+
12 Wees bly oor die hoop wat julle het. Volhard wanneer julle moeilike tye deurmaak.+ Hou vol met gebed.+
13 Deel met die heiliges volgens wat hulle nodig het.+ Wees altyd gasvry.+
14 Hou aan om dié te seën wat julle vervolg.+ Seën en moenie vervloek nie.+
15 Wees bly saam met mense wat bly is. Huil saam met mense wat huil.
16 Beskou ander soos julle julleself beskou. Moenie hoogmoedig wees* nie, maar laat julle deur nederigheid lei.+ Moenie in julle eie oë wys word nie.+
17 Moenie slegte dinge aan mense doen wanneer hulle slegte dinge aan julle doen nie.+ Doen dinge wat alle mense as goed sal beskou.
18 Doen julle bes, sover dit van julle afhang, om in vrede met alle mense te lewe.+
19 Moenie self wraak neem nie, geliefde vriende, maar laat die woede aan God oor,+ want daar staan geskryf: “‘Die wraak is myne. Ek sal terugbetaal,’ sê Jehovah.”*+
20 Maar “as jou vyand honger is, gee hom iets om te eet, en as hy dors is, gee hom iets om te drink, want as jy dit doen, sal dit wees asof jy gloeiende kole op sy kop sit”.*+
21 Moenie toelaat dat die slegte jou oorwin nie, maar hou aan om die slegte met die goeie te oorwin.+
Voetnote
^ Of “’n gesonde verstand het”.
^ Of “gawes”.
^ Of “vermaan”.
^ Of “vermaan”.
^ Of “bydra”.
^ Of “in alle erns”.
^ Of “inisiatief”.
^ Of “ywerig”.
^ Of “hoë dinge bedink”.
^ D.w.s. om iemand se hart sag te maak en sy hardheid te laat wegsmelt.