Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Gemeentelike vergaderinge deur middel van videoverbinding

Gemeentelike vergaderinge deur middel van videoverbinding

26 JUNIE 2020

 Baie regerings regoor die wêreld het vereis dat mense hulle fisiese afstand moet behou en het nie toegelaat dat mense bymekaarkom nie. Jehovah se Getuies is vasbeslote om gehoorsaam te wees aan hierdie vereistes terwyl hulle nog steeds saam aanbid op ’n veilige manier. Om dit te doen, gebruik gemeentes videoverbinding-apps, soos Zoom, om vergaderinge te hou.

 Die Bestuursliggaam het toestemming gegee dat bydraes gebruik word om Zoom-rekeninge vir gemeentes te koop sodat ons vergaderinge gereeld gehou kan word. Dit het party gemeentes baie gehelp wat nie ’n videoverbinding-rekening kon bekostig nie wat gewoonlik $15-$20 of meer kan kos. Hierdie gemeentes het dikwels gratis apps gebruik wat net ’n klein hoeveelheid mense toelaat om in te skakel en nie genoeg sekuriteit bied nie. Maar nou kan gemeentes gebruik maak van hierdie Zoom-rekeninge wat deur die organisasie betaal word. Dit maak dit vir hulle maklik om die sekuriteit te beheer, en ’n groot hoeveelheid mense kan inskakel by elke vergadering. Tot dusver gebruik meer as 65 000 gemeentes in meer as 170 lande hierdie rekeninge.

 Die Kairagi-gemeente in Manado, Noord-Sulawesi, Indonesië, het opgehou om ’n gratis videoverbinding-app te gebruik en het oorgeskakel na die organisasie se Zoom-rekening. Broer Hadi Santoso verduidelik: “Selfs broers en susters wat nie veel weet van elektroniese toestelle nie, kan nou die vergaderinge geniet, grootliks omdat dit nie meer vir hulle nodig is om gedurende ’n vergadering meer as een keer aan te meld nie.”

 Lester Jijón, Jr., ’n ouerman in die Guayacanes Oeste-gemeente in Guayaquil, Ecuador, vertel: “As gevolg van die broers en susters se ekonomiese situasie sou dit net nie moontlik vir party gemeentes gewees het om vir die Zoom-lisensie te betaal wat die hele gemeente sou toelaat om vergaderinge by te woon nie. Nou, danksy die organisasie, het ons ’n Zoo­m-rekening wat ’n groot hoeveelheid mense toelaat om in te skakel. So ons kan ander uitnooi om in te skakel by die vergaderinge sonder om bang te wees dat ons die limiet bereik van hoeveel mense mag inskakel.”

 Johnson Mwanza, ’n ouerman in die Ngwerere-Noord-gemeente in Lusaka, Zambië, skryf: “Baie broers en susters het meer as een keer gesê dat ‘die organisasie se Zoom-reëling ons nie net nader aan ons broers en susters laat voel nie, maar ons ook laat besef dat Jehovah vir ons lief is en vir ons omgee.’”

 Hierdie rekeninge is gekoop deur die organisasie met geld wat spesifiek opsygesit is vir noodlenigingswerk. Hierdie geld kom van vrywillige donasies aan die wêreldwye werk. Baie van hierdie donasies word deur middel van donate.mr1310.com gemaak. Dankie vir julle vrygewige bydraes wat ook help met ander noodlenigingswerk regoor die wêreld. – 2 Korintiërs 8:14.