HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD
’n Klein boks wat geestelike kos beskikbaar maak
1 SEPTEMBER 2020
Jehovah se Getuies kry meer geestelike kos in digitale vorm as ooit te vore. Maar in baie dele van die wêreld kan ons broers nie Internettoegang bekostig nie. Ander bly in gebiede waar daar gereelde onderbrekings, stadige Internetspoed of glad nie Internet is nie.
Ten spyte hiervan kan baie van ons broers en susters nou elektroniese publikasies selfs sonder die Internet aflaai! Hoe is dit moontlik?
JW Box word aan gemeentes voorsien waar Internettoegang beperk is. Dit bevat ’n versender wat by ’n kommersiële maatskappy gekoop word, sagteware wat deur die Rekenaarafdeling by Bethel ontwikkel is en elektroniese publikasies en video’s wat op jw.org beskikbaar is. Elke JW Box kos omtrent R1 200.
By die Koninkryksaal koppel broers en susters hulle mobiele toestelle koordloos aan JW Box en laai dan publikasies en video’s af. Selfs dié wat ouer en goedkoper toestelle het, kan daaraan gekoppel word. Maar hoe bly JW Box op datum as die gemeente nie toegang tot die Internet het nie? Die takkantoor stuur gereeld USB-stokkies wat omtrent R65 elk kos. Dit bevat nuwe inhoud van jw.org wat op die JW Box gelaai kan word.
Hoe het JW Box ons broers gehelp? Nathan Adruandra, ’n pa wat in die Demokratiese Republiek van die Kongo bly, verduidelik: “Ek het lank probeer om die dramas ‘O Jehovah, . . . in u het ek my vertroue gestel’ en Dink aan die vrou van Lot af te laai. Maar ek kon dit nooit regkry nie, en dit het my mismoedig gemaak. Nou kan ek hierdie video’s op my foon aflaai, en dit help ons as ouers om ons kinders beter te leer.”
’n Broer wat gemeentes in Nigerië help om JW Box op te stel, sê: “Die broers beskou JW Box as ’n spesiale geskenk van Jehovah. Hulle is so opgewonde omdat hulle nou maklik publikasies en video’s van die Gereedskapskissie vir Onderrigting kan aflaai.”
Meer as 1 700 van hierdie soort toerusting is aan ons broers in Afrika, Oseanië en Suid-Amerika gestuur, en daar word beplan om dit na nog baie meer gemeentes te stuur. Hoe word die koste van hierdie reëling gedek? Deur donasies aan die wêreldwye werk, waarvan baie deur middel van donate.mr1310.com gemaak word. Dankie vir julle vrygewige ondersteuning.