HOU AAN WAAK!
Ernstige droogtes – Wat sê die Bybel?
“Volgens China het hulle ‘die ergste’ hittegolf en die derde droogste somer gehad wat al ooit opgeteken is.” – The Guardian, 7 September 2022.
Vir die vyfde jaar in ’n ry sal dele van Afrika ernstige droogtes ondervind. – UN News, 26 Augustus 2022.
Daar is gevaar van droogte in meer as die helfte van Europa, en dit is heel moontlik die ergste droogte in 500 jaar. – BBC News, 23 Augustus 2022.
Baie kenners voorspel dat sulke droogtes sal aanhou en selfs erger sal word. Is daar enige hoop vir ’n beter toekoms? Wat sê die Bybel?
Droogtes en Bybelprofesieë
Die Bybel het die volgende vir ons dag voorspel:
“Daar sal . . . voedseltekorte . . . op die een plek ná die ander [wees].” – Lukas 21:11.
Droogtes veroorsaak dikwels voedseltekorte. Sulke voedseltekorte, en die swaarkry en dood wat dit veroorsaak, vervul Bybelprofesieë. – Openbaring 6:6, 8.
Hoekom droogtes erger word
Die Bybel gee ’n belangrike rede hoekom droogtes erger word. Dit sê:
“Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.” – Jeremia 10:23.
Dit beteken dat mense nie op ’n suksesvolle manier hulle ‘voetstappe kan rig’, of oor hulleself kan regeer nie. Hulle slegte besluite veroorsaak dikwels droogtes en watertekorte.
Die meeste wetenskaplikes stem saam dat die dinge wat mense doen, aardverwarming veroorsaak het, en as gevolg hiervan is daar meer droogtes regoor die wêreld.
Gierigheid en mense wat beleide maak sonder om aan die toekoms te dink, veroorsaak die vernietiging van woude, besoedeling en die misbruik van natuurlike hulpbronne. As gevolg hiervan kan ons dalk belangrike waterbronne verloor.
Maar die Bybel gee ons hoop.
Is daar enige hoop vir die toekoms?
Die Bybel belowe dat God binnekort die waterkrisis sal oplos. Hoe sal hy dit doen?
1. God sal “die vernietigers van die aarde . . . vernietig” (Openbaring 11:18). Hy sal een oorsaak van watertekorte verwyder – goddelose, gierige mense wat die omgewing vernietig. – 2 Timoteus 3:1, 2.
2. “Die kurkdroë grond sal verander in ’n poel vol riete” (Jesaja 35:1, 6, 7). God sal die skade herstel wat deur droogtes veroorsaak is en hierdie planeet in ’n paradys verander waar daar baie water sal wees.
3. “U sorg vir die aarde, en u maak dit baie vrugbaar en ryk” (Psalm 65:9). Met God se seën sal daar oorgenoeg goeie kos en skoon water vir almal wees.