Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Klimaatsverandering en ons toekoms – Wat die Bybel sê

Klimaatsverandering en ons toekoms – Wat die Bybel sê

 “Klimaatsverandering het ’n ramp geword. Die aarde is besig om onleefbaar te word.” – The Guardian.

 Die mens het voor ’n krisis te staan gekom wat hy self veroorsaak het. Die meeste wetenskaplikes stem saam dat die dinge wat mense doen, aardverwarming veroorsaak. Hierdie styging in temperatuur het alreeds die klimaat verander en tot verskriklike gevolge gelei. Dit sluit die volgende in:

  •   Al hoe meer uiterste weerstoestande, soos hittegolwe, droogtes en storms, wat meer oorstromings en brande veroorsaak.

  •   Gletsers en Arktiese ys wat besig is om te smelt.

  •   Stygende seevlakke.

 Die klimaatskrisis het elke deel van die aarde geraak. ’n Verslag in die New York Times het die volgende gesê nadat dit toestande in 193 lande beskryf het: “Die planeet smeek vir hulp.” As gevolg van die dood en swaarkry wat klimaatsverandering veroorsaak het, het die Wêreldgesondheidsorganisasie dit die “grootste bedreiging vir die mens se gesondheid” genoem.

 Maar ons het goeie rede om hoop te hê vir die toekoms. Die Bybel het die gebeure wat ons vandag sien, voorspel. Dit wys ook hoekom ons kan verwag dat God sal optree en wat hy gaan doen om ons toekoms te beskerm.

Het die Bybel klimaatsverandering voorspel?

 Ja. Die klimaatskrisis wat deur aardverwarming veroorsaak word, stem ooreen met wat die Bybel vir ons tyd voorspel het.

 Profesie: God sal “die vernietigers van die aarde . . . vernietig”. – Openbaring 11:18.

 Die Bybel het ’n tyd voorspel wanneer die mens se dade die aarde amper sou vernietig. As gevolg van aardverwarming vernietig mense die aarde nou meer as ooit tevore.

 Hierdie profesie wys wat een rede is hoekom ons nie kan verwag dat mense die aarde kan red nie. Let op dat God sal ingryp terwyl mense besig is om “die aarde te vernietig”. Party mense het goeie bedoelings en probeer om klimaatsverandering te keer. Maar dit maak nie saak wat hulle doen nie, hulle sal nie kan keer dat mense die aarde vernietig nie.

 Profesie: “Mense sal skrikwekkende dinge sien.” – Lukas 21:11.

 Die Bybel het voorspel dat daar in ons tyd “skrikwekkende dinge” sou gebeur. Klimaatsverandering het veroorsaak dat daar ontstellende weerstoestande regoor die aarde plaasvind. Vandag voel party mense heeltyd angstig oor die klimaat en die gevolge van klimaatsverandering.

 Profesie: ‘Daar sal in die laaste dae swaar tye wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal selfsugtig wees, geldgierig en dislojaal wees. Hulle sal nie bereid wees om tot enigiets in te stem nie. Hulle sal verraaiers en hardkoppig wees.’ – 2 Timoteus 3:1-4.

 Die Bybel het die eienskappe en die gedrag voorspel wat die klimaatskrisis veroorsaak het. Regerings en besighede stel meer belang in geld as in hoe die lewe vir mense in die toekoms sal wees. Selfs al probeer hulle om saam te werk, kan hulle nie saamstem oor wat hulle moet doen om aardverwarming te keer nie.

 Hierdie profesie wys dat ons nie moet verwag dat mense oor die algemeen sal verander en die aarde sal beskerm nie. Die Bybel sê eerder dat mense wat selfsugtig is, “al hoe slegter [sal] word”. – 2 Timoteus 3:13.

Hoekom ons seker kan wees dat God sal optree

 Die Bybel sê dat Jehovah a God, ons Skepper, baie omgee vir ons planeet en vir diegene wat daarop woon. Kyk na net drie Bybelverse wat wys dat God sal optree.

  1.  1. God het die aarde ‘nie verniet geskep nie, maar het dit gemaak om bewoon te word’. – Jesaja 45:18.

     God sal sy doel vir die aarde bereik (Jesaja 55:11). Hy sal nie toelaat dat dit vernietig of onbewoonbaar word nie.

  2.  2. “Die nederiges sal die aarde besit, en hulle sal groot vreugde vind in die oorvloed van vrede. Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop lewe.” – Psalm 37:11, 29.

     God belowe dat mense vir ewig op die aarde onder vreedsame toestande sal lewe.

  3.  3. “Maar goddelose mense sal van die aarde af uitgeroei word.” – Spreuke 2:22.

     God belowe om diegene uit te roei wat aanhou om slegte dinge te doen, insluitende persone wat die aarde vernietig.

Wat God vir ons toekoms sal doen

 Hoe sal God sy beloftes vir die aarde vervul? Hy sal dit doen deur middel van ’n wêreldwye regering wat God se Koninkryk genoem word (Matteus 6:10). Daardie Koninkryk sal uit die hemel regeer. Dit sal nie met menseregerings hoef te onderhandel oor die aarde of die omgewing nie. God se Koninkryk sal eerder menseregerings vervang. – Daniël 2:44.

 God se Koninkryk sal goeie dinge vir die mens en vir die natuur doen (Psalm 96:10-13). Kyk wat Jehovah God deur middel van sy Koninkryk gaan doen.

  •   Die omgewing herstel

     Wat die Bybel sê: “Die wildernis en die dorre land sal juig, en die woestyn sal vreugdevol en vol blomme wees.” – Jesaja 35:1.

     Wat dit vir ons toekoms beteken: Jehovah sal die planeet herstel, selfs plekke wat erg beskadig is deur mense.

  •   Uiterste weerstoestande beheer

     Wat die Bybel sê: “[Jehovah] laat die windstorm bedaar, en die golwe van die see word stil.” – Psalm 107:29.

     Wat dit vir ons toekoms beteken: Jehovah het die krag om die natuurkragte te beheer. Mense sal nie meer swaarkry as gevolg van uiterste weerstoestande nie.

  •   Mense leer om na die aarde om te sien

     Wat die Bybel sê: “Ek sal jou insig gee en jou die weg wys wat jy moet volg.” – Psalm 32:8.

     Wat dit vir ons toekoms beteken: Jehovah het mense die verantwoordelikheid gegee om na die aarde om te sien (Genesis 1:28; 2:15). Hy sal ons leer hoe om hierdie verantwoordelikheid na te kom en op ’n manier te lewe wat nie die omgewing sal beskadig nie.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?