Jongmense vra
Wat kan ek van die huwelik verwag?—Deel 1
“Wanneer ons saam is, is ek in die wolke! Ek kan nie wag om by hom te wees nie!”
“Ons het byna niks in gemeen nie. Dit voel asof ons kamermaats is, nie huweliksmaats nie. Ek voel so eensaam!”
SOOS jy waarskynlik geraai het, is die eerste stelling dié van ’n ongetroude meisie; die tweede een dié van ’n getroude persoon. Maar dalk het jy nie besef dat dit een en dieselfde persoon se woorde is nie.
Wat het skeefgeloop? Hoe kan jy, as jy graag eendag wil trou, verhoed dat ’n romantiese droom in ’n huwelik vol probleme verander?
Lewenswaarheid: Jou geluk in die huwelik hang grotendeels af van wat jy daarvan verwag.
Hierdie artikel—asook die “Jongmense vra”-artikel in volgende maand se Ontwaak!—sal jou help om realistiese verwagtinge te hê.
Watter realistiese verwagtinge kan jy van die huwelik koester? Kortom:
- Verwag voordele
- Verwag uitdagings
- Verwag die onverwagte
Kom ons kyk van naderby na elkeen.
VERWAG VOORDELE
Die Bybel bevorder ’n positiewe beskouing van die huwelik (Spreuke 18:22). Hier volg ’n paar van die voordele wat jy kan verwag.
Kameraadskap. Volgens die Bybel het God ’n ruk nadat die eerste man, Adam, geskep is, gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen bly nie”, waarna Hy Eva as ’n maat vir Adam geskep het (Genesis 2:18). God het elkeen van hulle unieke eienskappe gegee sodat hulle van mekaar sou verskil, maar tog by mekaar sou pas. Daarom kan ’n man en vrou uitstekende metgeselle vir mekaar wees.—Spreuke 5:18.
Spanwerk. Die Bybel sê: “Twee is beter as een omdat hulle saam meer kan uitrig” (Prediker 4:9, Good News Translation). Dit is beslis waar van die huwelik. “Dis belangrik om as ’n span saam te werk en om nederig te wees en bereid te wees om elke nou en dan toe te gee”, sê ’n pasgetroude jong vrou met die naam Brenda. *
Intimiteit. Die Bybel sê: “Die man moet in sy vrou se seksuele behoeftes voorsien, en die vrou moet dieselfde vir haar man doen” (1 Korintiërs 7:3, Common English Bible). Wanneer jy getroud is, kan jy seks geniet sonder die bekommernis en spyt wat so dikwels die droewige gevolge van voorhuwelikse seks is.—Spreuke 7:22, 23; 1 Korintiërs 7:8, 9.
Die slotsom: Die huwelik is ’n gawe van God (Jakobus 1:17). Wanneer jy by Sy beginsels bly, kan jy verwag dat die huwelik baie seëninge in jou lewe sal meebring.
Iets om oor te dink: Het jy ’n negatiewe beskouing van die huwelik as gevolg van slegte voorbeelde—dalk in julle gesin? Indien wel, watter positiewe rolmodelle is daar wat jy kan navolg?
VERWAG UITDAGINGS
Die Bybel bied ’n realistiese beskouing van die huwelik (1 Korintiërs 7:28). Hier volg ’n paar uitdagings wat jy kan verwag.
Konflik. Daar is nie twee mense wat identies is nie. En boonop is almal onvolmaak (Romeine 3:23). Dit is waarom ’n man en vrou soms meningsverskille sal hê, ongeag hoe goed hulle by mekaar pas. Soms sê hulle dalk selfs onaangename dinge waaroor hulle later spyt is. “’n Persoon wat nooit iets verkeerds sê nie, . . . is volmaak”, sê die Bybel (Jakobus 3:2, Holy Bible—Easy-to-Read Version). Eerder as om onrealisties te probeer om alle meningsverskille te vermy, leer suksesvolle egpare hoe om dit te bespreek en op te los wanneer dit ontstaan.
Teleurstelling. “Ons word gebombardeer met rolprente en TV-programme waarin die meisie haar ‘ideale’ maat vind en hulle dan lank en gelukkig saam lewe”, sê ’n meisie met die naam Karen. Wanneer ’n huwelik nie aan sulke verwagtinge voldoen nie, kan dit vir al twee maats teleurstellend wees. Nadat hulle getrou het, sal albei maats natuurlik nog onvolmaakthede en eienaardighede in mekaar raaksien. Die sleutel is om te onthou dat ware liefde ‘alles verdra’—selfs teleurstelling.—1 Korintiërs 13:4, 7.
Bekommernis. Die Bybel sê dat getroude persone “besorg [is] oor die dinge van die wêreld” (1 Korintiërs 7:33, 34). Sulke bekommernisse is normaal en is dikwels selfs gepas. Byvoorbeeld, julle sal dit dalk moeilik vind om die pot aan die kook te hou. Al twee maats sal moontlik moet werk net om vir kos, klere en verblyf te betaal. Maar julle kan suksesvol wees as julle as ’n span saamwerk om na julle huishouding om te sien.—1 Timoteus 5:8.
Die slotsom: As ’n mens uitgaan, is dit soos om ’n vlieër te vlieg; as jy getroud is, is dit soos om ’n vliegtuig te vlieg. Dit sal baie meer vaardigheid en inspanning verg om die stormagtige uitdagings die hoof te bied—maar julle kan dit doen.
Iets om oor te dink: Hoe reageer jy nou as jy ’n meningsverskil met jou ouers en broers of susters het? Behou jy ’n realistiese beskouing van sake wanneer jy teleurgestel word? Hoe reageer jy as jy bekommernisse het?
IN DIE VOLGENDE “JONGMENSE VRA” . . . Hoe kan Bybelbeginsels jou help om die onverwagte te verwag?
^ par. 17 Van die name in hierdie artikel is verander.