Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die stryd teen vetsug onder jongmense

Die stryd teen vetsug onder jongmense

VOLGENS die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste het die aantal adolessente wat oorgewig is, tussen 1980 en 2002 verdriedubbel en het die aantal kinders tussen nege en twaalf wat oorgewig is, meer as verdubbel. Vetsug onder kinders kan oor die langtermyn die risiko vergroot dat hulle onder meer hoë bloeddruk, suikersiekte, hartsiekte en verskeie soorte kanker sal opdoen. *

Vetsug onder kinders hou moontlik met ’n aantal faktore verband, insluitende ’n sittende lewenstyl, reklameveldtogte wat op jongmense gerig is en die beskikbaarheid en bekostigbaarheid van ongesonde kos. Die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer sê: “Kinders ly aan vetsug omdat hulle te veel kilojoules inneem en nie genoeg oefening kry nie.”

Kinders, adolessente en volwassenes kan gerus hulle eetgewoontes ondersoek. ’n Paar eenvoudige maatreëls kan ’n verskil maak, sonder dat ’n mens tot uiterstes hoef te gaan. Neem byvoorbeeld ’n jong man met die naam Mark, wat gevind het dat dit sy gesondheid en algemene welsyn grootliks bevoordeel het toe hy sy eetgewoontes verander het. “Ek was vroeër verslaaf aan gemorskos”, erken Mark. Ontwaak! het met Mark gepraat om uit te vind watter veranderinge hy aangebring het.

Wanneer het jou probleem met kos begin?

Nadat ek my hoërskoolloopbaan voltooi het. Op daardie stadium het ek baie begin uiteet. Daar was twee kitskosrestaurante naby my werksplek, en daarom het ek byna elke dag middagete by een van die twee gaan eet. Dit was soveel makliker om na ’n kitskosrestaurant te gaan as om my eie middagete te maak.

Wat het gebeur toe jy uit jou ouerhuis getrek het?

My eetgewoontes het versleg. Ek kon nie kook nie, en ek het nie baie geld gehad nie; maar die kitskosrestaurant waarvan ek die meeste gehou het, was net twee blokke van my blyplek af. Vir my het dit gelyk na die maklikste en goedkoopste opsie. Ek het nie net die verkeerde soort kos geëet nie, maar ek het ook hopeloos te veel geëet. Ek was nie tevrede met die gewone kitskosmaaltyd nie. Ek het meer skyfies, ’n groter koeldrank en ’n ekstra hamburger bestel—wat ek ook al kon bekostig. Ek wou die grootste porsie hê wat beskikbaar was.

Wat was vir jou die keerpunt?

Toe ek in my vroeë 20’s was, het ek ernstig oor my gesondheid begin nadink. Ek was oorgewig. Ek het heeltyd moeg gevoel en het min selfvertroue gehad. Ek het geweet dat ek veranderinge moet aanbring.

Hoe het jy jou eetgewoontes onder beheer gekry?

Ek het dit stap vir stap gedoen. Ek het begin deur minder kos te eet. Ek het vir myself gesê: “Dis nie jou laaste ete nie; jy kan altyd weer eet.” Soms moes ek my dwing om van die etenstafel af weg te stap. Maar agterna het ek goed gevoel, asof ek ’n oorwinning behaal het.

Moes jy enige drastiese veranderinge maak?

Ek het party dinge heeltemal uitgesny. Ek het byvoorbeeld opgehou om gaskoeldrank te drink en het net water begin drink. Dit was moeilik. Ek was lief vir koeldrank en het niks van water gehou nie. Nadat ek ’n glas water gedrink het, het ek net vir die smaak ’n paar slukkies sap gedrink. Ná ’n ruk het ek meer van water begin hou.

Wat het jy nog gedoen?

Ek het ongesonde kos met gesonde kos vervang. Ek het begin met vrugte—appels, piesangs, aarbeie, bloubessies, frambose en spanspek. Ek het ook laevetproteïene by my dieet gevoeg, soos hoender en tuna. Later het dit van my gunstelingkossoorte geword. Ek probeer meer groente eet, en minder van die res van die maaltyd. Ek vind dat ek minder geneig is om my te ooreet as ek gesonde peuselhappies tussen maaltye eet. Later was ek eintlik nie meer lus vir gemorskos nie.

Eet jy glad nie meer uit nie?

Nou en dan gaan eet ek nog uit. Maar dan let ek op hoeveel ek eet. As die porsie te groot is, vra ek ’n brakkiesakkie. Dan sit ek die helfte van die kos daarin voordat ek begin eet. Sodoende eet ek ’n redelike porsie en nie te veel net omdat ek skuldig voel om kos op my bord te los nie.

Hoe het jy baat gevind by die veranderinge wat jy gemaak het?

Ek het gewig verloor, en ek het meer energie. Ek het ’n beter selfbeeld. Bowenal voel ek gelukkig omdat ek weet dat ek God, wat my die gawe van die lewe gegee het, eer deur na my gesondheid om te sien (Psalm 36:9). Ek het gedink dat ’n gesonde lewenswyse vervelig sou wees. Maar nou sal ek dit vir niks in die wêreld verruil nie! *

^ par. 2 Deskundiges sê dat daar ’n risiko van 70 persent bestaan dat jongmense wat oorgewig is, ook as volwassenes oorgewig sal wees.

^ par. 20 Ontwaak! staan nie enige spesifieke dieet voor nie. Elke persoon moet sy opsies noukeurig oorweeg en ’n dokter raadpleeg voordat hy persoonlike besluite in verband met sy dieet neem. Vermy gewilde maar potensieel gevaarlike diëte.