Die bees met twee wollerige pelse
MET sy groot horings, ’n lang kuif wat oor sy oë hang en ’n dik, wollerige pels wat sy bonkige liggaam bedek, is die hooglandbees maklik om uit te ken.
Die geharde hooglander—een van die oudste beesrasse waarvan die mens weet—floreer al eeue lank in die strawwe weerstoestande van Skotland se hooglande en eilande. Lank gelede was die beeste wat op die verafgeleë hooglande gewei het, groter en het hulle ’n rooibruin pels gehad, terwyl dié op die eilande langs die weskus kleiner was en gewoonlik ’n swart pels gehad het. Vandag beskou mense die hooglander as een beesras, en die kleur van sy pels wissel van rooi, swart, ligbruin en geel tot byna wit.
Die hooglander se harige, ietwat komieklike kuif speel ’n belangrike rol. In die winter hou dit die swiepende wind, reën en sneeu uit sy oë uit. In die somer bied dit beskerming teen vlieënde insekte wat infeksie kan veroorsaak.
In die ou tyd het boere wat op paggrond geboer het, hulle hooglandbeeste in klipskuilings ingebring waarvan die voorkant oop was. Dit was om hulle teen die strawwe weerstoestande en wolwe te beskerm.
Sy merkwaardige pelse
Die hooglander het ’n dubbele pels, wat hom uniek maak onder al die beesrasse. Die wollerige, buitenste pels bestaan uit lang hare, wat soms tot 33 sentimeter lank word. Hierdie digte, olierige pels weer die reën en die sneeu af. Onder hierdie pels is daar die sagte, wollerige binneste pels wat die dier warm hou.
Jim, wat al jare lank met hooglanders werk, het verduidelik: “Dit is baie moeilik om hulle met sjampoe te was, want dit is byna onmoontlik om hulle pels met water te deurweek!” Die hooglander se wollerige pels stel hom in staat om te floreer en aan te teel in bergstreke waar harde reën en yskoue winde algemeen is en waar geen ander beesras kan oorleef nie.
As dit in die somer te warm en droog word, verloor die aanpasbare hooglander sy swaar buitenste pels. Later, wanneer die koue, klam weer terugkeer, kry hy ’n nuwe buitenste pels.
’n Waardevolle bate
Terwyl skape geneig is om plantegroei te vernietig deur wortels en sagte spruite te vreet, is dit nie met beeste—insluitende die hooglander—die geval nie. Trouens, die hooglander verbeter swak weiveld. Hoe? Met sy lang, kragtige horings en breë snoet verwyder hy ongewenste plantegroei wat die meeste ander beesrasse vermy. Dit gee gras en bome kans om weer te groei.
Die hooglander se twee wollerige pelse hou nog ’n groot voordeel in. Omdat die hooglander nie ’n ekstra vetlaag nodig het om warm te bly nie, bevat sy vleis minder vet en cholesterol en meer proteïen en yster as ander beesvleis. En hierdie topgehaltevleis word sonder enige duur veevoer geproduseer!
’n Woordjie van waarskuwing
Hooglanders is al baie lank gewoond aan mense. Die vroeë Skotte het hulle op die grondvloer van hulle huise gehou. Die beeste het die boonste verdieping, waar die gesin gewoon het, help warm hou.
Hoewel mak beeste oor die algemeen kalm en bedaard is, kan hooglanders soms gevaarlik wees. ’n Koei met ’n kalfie kan byvoorbeeld baie beskermend wees. Ook moet ’n mens daarop let dat jy eerder om ’n kudde hooglanders loop as tussen hulle deur.
Weens die hooglander se aanpasbaarheid het hy regoor die wêreld ’n gewilde beesras geword. Hy floreer in plekke so ver noord as Alaska en Skandinawië en word selfs in die Andesgebergte op ’n hoogte van 3 000 meter aangetref. Maar hy vaar ook goed in warmer streke.
Skotland is nie net bekend vir tartan, Skotse rokkies en doedelsakke nie, maar ook vir sy pragtige, onmiskenbare hooglandbeeste. Is daar beeste met twee wollerige pelse waar jy woon?