Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Switserland

Volgens ’n studie in Switserland is die moontlikheid 14 persent groter dat ’n persoon wat ouer as 60 is, op sy verjaarsdag sal sterf as op ’n ander dag. Op hulle verjaarsdag kry mense in die algemeen 18 persent meer dikwels ’n noodlottige hartaanval, kry vroue 21 persent meer dikwels ’n beroerte en pleeg mans 35 persent meer dikwels selfmoord. Wetenskaplikes vermoed dat spanning en alkohol bydra tot hierdie toename in selfmoorde en ongelukke. Party deskundiges betwis egter hierdie studie en meen dat baie geboortedatums met sterfdatums ooreenkom weens menslike foute.

Israel

Aantreklike mans wat ’n foto by hulle CV aangeheg het, het ’n groter kans gestaan om ’n onderhoud toegestaan te word as mooi vroue wat dit gedoen het. Waarom? Israeliese navorsers doen aan die hand dat dit moontlik die geval is omdat personeelafdelings—wat moet besluit met wie ’n onderhoud gevoer sal word—hoofsaaklik deur vroue beman word. Die “onsmaaklike” verduideliking is volgens The Economist dat “ouderwetse jaloesie daartoe gelei het dat die vroue teen mooi kandidate gediskrimineer het”.

Verenigde State

Drie pasifiste—’n 82-jarige non en twee metgeselle van 63 en 57—het onlangs ten spyte van veiligheidsmaatreëls by ’n terrein in Oak Ridge, Tennessee, ingekom, waar 100 ton kernmateriaal geberg word, en slagspreuke teen oorlog op een van die geboue geverf. Die verslapping in sekuriteit by wat “veronderstel is om een van die wêreld se ondeurdringbaarste fasiliteite te wees”, is deur die minister van energie, Steven Chu, as “uiters kommerwekkend” beskryf.

Australië

Die hoogste hof in die land vereis nou dat tabakmaatskappye kenmerkende kleure en kentekens van sigaretpakkies verwyder. Alle sigarette moet nou verkoop word in oninteressante donkerbruin pakkies met prente daarop wat die gevare van rook duidelik uitbeeld.