Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek het oral om my ongeregtigheid gesien

Ek het oral om my ongeregtigheid gesien

EK IS in 1965 gebore in ’n arm gesin in Noord-Ierland. Ek het grootgeword in die graafskap Derry gedurende die “Troubles”, die gewelddadige botsing tussen Katolieke en Protestante wat meer as 30 jaar geduur het. Die Katolieke minderheid het gemeen dat die Protestantse meerderheid teen hulle diskrimineer en het hulle beskuldig van onregverdigheid in verband met verkiesings, polisiëring, werkverskaffing en behuising.

Ek het oral om my ongeregtigheid en ongelykheid gesien. Ek kon later nie meer onthou hoeveel keer ek aangerand, uit ’n kar gepluk, met ’n vuurwapen gedreig of deur die polisie of soldate ondervra en deursoek is nie. Ek het verontreg gevoel en gedink: ‘Ek kan dit aanvaar, of ek kan weerstand bied!’

Ek het deelgeneem aan die “Bloody Sunday”-optogte van 1972, ter herdenking van die 14 mense wat deur Britse soldate doodgeskiet is, sowel as aan die optogte ter ere van die republikeinse gevangenes wat in 1981 weens ’n eetstaking gesterf het. Ek het oral waar ek kon, verbode vlae gehys en anti-Britse graffiti geskryf. Dit het gelyk asof daar altyd nog ’n gruweldaad of nog ’n moord op ’n Katoliek is waarteen protes aangeteken  moet word. Wat as ’n optog begin het, het dikwels in ’n volskaalse oproer ontaard.

Terwyl ek op universiteit was, het ek deelgeneem aan studente se protesoptrede teen die beskadiging van die omgewing. Ek het later na Londen verhuis, en daar het ek deelgeneem aan sosialistiese optogte teen staatsbeleide wat blykbaar die vooraanstaandes bevoordeel het ten koste van die armes. Ek het ook deelgeneem aan vakbondstakings teen salarisverminderings en aan die hoofbelastingoptog van 1990, wat daartoe gelei het dat Trafalgar Square erg beskadig is deur die betogers.

Maar ek is uiteindelik ontnugter. Protesoptrede het dikwels eerder haat aangeblaas as om ons te help om ons doelwitte te bereik.

Al het mense goeie bedoelings, kan hulle nie geregtigheid en gelykheid teweegbring nie

Ongeveer dié tyd het ’n vriend my aan Jehovah se Getuies voorgestel. Hulle het my in die Bybel gewys dat God besorg is oor die lyding wat ons verduur en dat hy al die skade wat ooit deur mense aangerig is, ongedaan sal maak (Jesaja 65:17; Openbaring 21:3, 4). Al het mense goeie bedoelings, kan hulle nie geregtigheid en gelykheid teweegbring nie. Ons het nie net God se leiding nodig nie, maar ons het ook sy krag nodig om te seëvier oor die onsigbare magte wat agter die wêreld se probleme sit.—Jeremia 10:23; Efesiërs 6:12.

Nou besef ek dat my verset teen ongeregtigheid daarmee vergelyk kan word om dekstoele op ’n sinkende skip reg te skuif. Dit was ’n groot verligting om te leer dat die tyd sal aanbreek wanneer daar geen ongeregtigheid op hierdie planeet sal wees nie, wanneer alle mense waarlik gelyk sal wees.

Die Bybel leer dat Jehovah God ‘geregtigheid liefhet’ (Psalm 37:28). Dit is een van die redes waarom ons seker kan wees dat hy geregtigheid tot stand sal bring op ’n manier wat vir menseregerings onmoontlik is (Daniël 2:44). As jy graag meer wil leer, kan jy met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking kom of ons webwerf www.mr1310.com/af besoek.