FIGURE UIT DIE VERLEDE
William Whiston
William Whiston was ’n wetenskaplike, ’n wiskundige, ’n geestelike, ’n produktiewe skrywer en ’n medewerker van die Engelse fisikus en wiskundige sir Isaac Newton. Whiston het Newton in 1702 opgevolg as wiskundeprofessor aan die Universiteit van Cambridge, Engeland. Hierdie amp, of professorskap, is al deur van die briljantste wetenskaplikes en tegnoloë beklee.
WHISTON is ook bekend, veral aan Bybelstudente, omdat hy die geskrifte van die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus in Engels vertaal het. The Works of Josephus het baie lig gewerp op die Joodse geskiedenis en die wêreld van die vroeë Christene.
WHISTON SE OPVATTINGS
Whiston was briljant en het baie onderwerpe bestudeer, veral die wetenskap en godsdiens. Hy het geglo dat die Bybel se skeppingsverslag akkuraat is en dat die ontwerp, vindingrykheid en orde in die natuur van ’n goddelike Argitek getuig.
Whiston het geglo dat die kerke van die Christendom in baie godsdiensgroepe versplinter het omdat die geestelikes van die Bybel afgedwaal het en die nie-Bybelse leringe en oorleweringe van kerkkonsilies en sogenaamde Kerkvaders verkies het.
Aangesien Whiston die Bybel as ’n boek van geestelike waarheid erken het, het hy die idee van ewige foltering in die helse vuur verwerp. Hy het dit as verregaande en wreed beskou en as ’n belediging vir God. Maar hy het veral met die kerkowerheid gebots weens die feit dat hy die Drie-eenheid verwerp het, wat God omskryf as drie gelyke en mede-ewige persone—Vader, Seun en Heilige Gees. Tog word daar beweer dat daar nie drie gode is nie, maar een god.
‘DIE BEROEMDE GELEERDE HET ’N UITGEWORPENE GEWORD’
Nadat Whiston noukeurige navorsing gedoen het, het hy tot die slotsom gekom dat die Drie-eenheid nie deur die vroeë Christene geleer is nie, maar dat dit later aangeneem is toe heidense filosofie die Christelike godsdiens binnegedring het. * Sy vriende het hom gewaarsku teen die gevare wat dit inhou om sy bevindings te publiseer, maar Whiston kon nie ignoreer wat hy beskou het as ’n verdraaiing van Jesus se ware aard as die Seun van God en as ’n wese wat geskep is nie.
Die Universiteit van Cambridge het nie toegelaat dat enigiemand wat idees in stryd met Anglikaanse leerstellings verkondig, ’n amp beklee nie, en dit het beteken dat Whiston sy werk kon verloor. Hy het nogtans nie stilgebly nie—anders as Newton wat ook die Drie-eenheid as ’n valse leerstelling beskou het, maar nie sy menings openlik uitgespreek het nie. Whiston het geskryf: “Hoegenaamd geen wêreldse beweegredes . . . sal my ontmoedig nie.”
Omdat Whiston geweier het om sy opvattings prys te gee, het “die beroemde geleerde ’n uitgeworpene geword”
In 1710 is Whiston uit Cambridge geskors. Omdat hy geweier het om van sy opvattings af te sien, het “die beroemde geleerde ’n uitgeworpene geword”. Selfs dít het hom nie afgeskrik nie. Trouens, toe hy van kettery beskuldig is, het hy ’n reeks verhandelinge geskryf met die naam Primitive Christianity Revived—waar “primitive” verwys na die oorspronklike Christelike godsdiens, die godsdiens wat Jesus se vroeë volgelinge beoefen het. Later het Whiston die Genootskap vir die Bevordering van die Vroeë Christelike Godsdiens gestig, wat in sy huis in Londen vergader het.
Hoewel hy nie meer ’n professor was nie en ’n tyd lank geldelik gesukkel het, het Whiston aangehou om te skryf en om lesings in koffiewinkels in Londen te hou. Om mense te help verstaan hoe die lewe was toe die vroeë Christelike godsdiens begin het, het hy sy vertaling van Josefus se geskrifte in 1737 uitgegee. Dit is nog steeds in druk.
Weens sy moedige maar ongewilde standpunt word Whiston vandag deur baie beskou as “’n eksentrieke karakter”, sê die skrywer James E. Force. Ander bewonder hom egter as ’n Bybelgeleerde, as iemand wat opreg na godsdienswaarheid gesoek het en as ’n mens wat vasbeslote was om sy opvattings na te leef.
^ par. 10 Die Bybel toon duidelik wat die aard van God is. Vir meer inligting kan jy jw.org/af besoek. Kyk onder BYBELLERINGE > ANTWOORDE OP BYBELVRAE.