Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoe om kinders selfbeheersing te leer

Hoe om kinders selfbeheersing te leer

DIE UITDAGING

Jou sesjarige het blykbaar geen idee wat selfbeheersing is nie. As hy iets sien wat hy wil hê, wil hy dit nou hê! Wanneer hy kwaad word, het hy soms ’n woedeuitbarsting. ‘Is dit normaal dat ’n kind so optree?’, wonder jy. ‘Is dit net ’n fase wat hy sal ontgroei of is dit nou die tyd om hom selfbeheersing te leer?’ *

WAT JY MOET WEET

Vandag se kultuur ondermyn selfbeheersing. “In ons permissiewe kultuur hoor volwassenes en kinders voortdurend boodskappe dat ons moet doen wat ons wil”, skryf dr. David Walsh. “Van welmenende selfhelpghoeroes tot geldgierige swendelaars—almal sê heeltyd dat ons aan ons drange moet toegee.” *

Kinders moet van kleins af selfbeheersing geleer word. In ’n langtermynstudie het navorsers vir ’n groep vierjariges elkeen ’n malvalekker gegee en vir hulle gesê dat hulle dit onmiddellik kon eet of dat hulle ’n rukkie kon wag en dat hulle dan nog ’n malvalekker sou kry as ’n beloning vir hulle geduld. Later in die lewe, toe hierdie kinders met hoërskool klaargemaak het, het dié wat op vierjarige ouderdom selfbeheersing geopenbaar het, emosioneel, sosiaal en akademies beter gevaar as die ander.

As kinders nie selfbeheersing geleer word nie, kan dit slegte gevolge hê. Navorsers glo dat die bedrading van ’n kind se brein deur sy ondervindinge verander kan word. Dr. Dan Kindlon verduidelik wat dit beteken en sê: “As ons ons kinders bederf, as ons hulle nie leer om hulle beurt af te wag, bevrediging uit te stel en versoeking te weerstaan nie, sal die veranderinge in die brein wat ons met ’n goeie karakter verbind, moontlik nie plaasvind nie.” *

WAT JY KAN DOEN

Stel die voorbeeld. Hoe vaar jy wanneer dit kom by selfbeheersing? Sien jou kind dat jy jou humeur in ’n verkeersknoop verloor, in die winkel by ’n tou indruk of ander in die rede val? “Die maklikste manier om ons kinders te help om selfbeheersing aan te kweek, is om dit self te openbaar”, skryf Kindlon.—Bybelbeginsel: Romeine 12:9.

Leer jou kind dat sy dade gevolge het. Help jou kind, op ’n manier wat vir sy ouderdom gepas is, om te sien dat dit voordele inhou om sy begeertes te weerstaan en dat daar gevolge is as hy daaraan toegee. As jou kind byvoorbeeld kwaad is omdat iemand hom sleg behandel het, kan jy hom help om te dink en hom af te vra: ‘Sal dit die situasie verbeter as ek die persoon behandel soos hy my behandel het of sal dit dinge net vererger? Is daar ’n beter manier om die situasie te hanteer—dalk deur tot tien te tel sodat ek kan kalmeer? Sal dit beter wees om net weg te loop?’—Bybelbeginsel: Galasiërs 6:7.

Spoor jou kind aan. Prys jou kind wanneer hy selfbeheersing openbaar. Sê vir hom dat dit dalk nie altyd maklik sal wees om sy begeertes te onderdruk nie, maar dat dit toon dat hy sterk is as hy dit wel doen! Die Bybel sê: “Soos ’n deurbreekte stad sonder ’n muur is die man wat sy gees nie in bedwang hou nie” (Spreuke 25:28). Maar “hy wat nie gou toornig word nie, is beter as ’n sterk man”.—Spreuke 16:32.

Oefen. Gebruik rolspel. Skep ’n speletjie met die naam “Wat sou jy doen?”, “Goeie keuses, slegte keuses” of iets soortgelyks. Bespreek potensiële situasies en voer moontlike reaksies op, wat julle dan as “goed” of as “sleg” klassifiseer. Wees kreatief: Gebruik poppe, tekeninge of ’n ander metode om die aktiwiteit lekker en leersaam te maak. Jou doelwit is om jou kind te help besef dat dit beter is om selfbeheersing te hê as om impulsief te wees.—Bybelbeginsel: Spreuke 29:11.

Wees geduldig. Die Bybel sê: “Dwaasheid sit vas in die hart van ’n kind” (Spreuke 22:15, voetnoot in NW). Moet dus nie verwag dat jou kind oornag selfbeheersing sal aankweek nie. “Dit is ’n lang, stadige proses met vooruitgang, terugslae en nog vooruitgang”, sê die boek Teach Your Children Well. Maar dit is die moeite werd. “’n Kind wat hom kan beheers”, sê die boek verder, “sal dit baie makliker vind om op twaalfjarige ouderdom nee te sê vir dwelms of op veertien nee te sê vir seks.”

^ par. 4 Hoewel ons in hierdie artikel na die kind as manlik verwys, is die beginsels wat bespreek word, op albei geslagte van toepassing.

^ par. 6 Uit die boek No: Why Kids—of All Ages—Need to Hear It and Ways Parents Can Say It.

^ par. 8 Uit die boek Too Much of a Good Thing—Raising Children of Character in an Indulgent Age.