Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Alhoewel boeke, flieks en speletjies bonatuurlike dinge interessant laat lyk, moet ons onthou dat dit baie gevaarlik is

VOORBLADONDERWERP | DIE WAARHEID OOR SLEGTE GEESTE

Wat leer die Bybel oor slegte geeste?

Wat leer die Bybel oor slegte geeste?

MENSE glo nie sommer alles wat hulle oor bonatuurlike dinge en slegte geeste hoor nie. Hulle dink dat dit nie waar is nie en dat dit maar net iets is wat ’n mens in flieks sien. Maar wat sê die Bybel? Dit waarsku ons duidelik teen slegte geeste. Byvoorbeeld, Deuteronomium 18:10-13 sê: “Daar mag niemand onder jou gevind word wat . . . van waarsêery gebruik maak, die toorkuns beoefen of voortekens soek of wat ’n towenaar is nie, of wat ’n towerspreuk oor ander uitspreek of [wat] ’n geestemedium of ’n beroepsvoorspeller . . . inligting vra of [wat] die dooies raadpleeg nie.” Hoekom nie? Die teks sê verder: “Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir Jehovah verfoeilik [dit wil sê vieslik] . . . Jy moet onberispelik wees teenoor Jehovah jou God.”

Hoekom waarsku die Bybel ons so streng teen enigiets wat met slegte geeste te doen het?

SLEGTE OORSPRONG

Die Bybel sê dat God miljoene engele gemaak het lank voordat hy die aarde gemaak het (Job 38:4, 7; Openbaring 5:11). God het hierdie engele almal vrye wil gegee, wat beteken dat hulle self tussen reg en verkeerd kan kies. Party van hulle het gekies om teen God te rebelleer en het uit die hemel na die aarde toe gekom om moeilikheid te maak. Daarom het die aarde “vol geweld geraak”.—Genesis 6:2-5, 11; Judas 6.

Die Bybel sê dat daardie slegte engele miljoene mense beïnvloed en mislei (Openbaring 12:9). Hulle weet dat mense nuuskierig is oor die toekoms en gebruik dit teen hulle.—1 Samuel 28:5, 7; 1 Timoteus 4:1.

Soms lyk dit asof bonatuurlike kragte mense help (2 Korintiërs 11:14). Maar eintlik probeer die slegte engele om mense se verstand te verblind sodat hulle nie weet wat die waarheid oor God is nie.—2 Korintiërs 4:4.

Die Bybel wys dat kontak met slegte geeste baie gevaarlik is en nie net onskuldige pret is nie. Daarom het “dié wat van bonatuurlike metodes gebruik gemaak het, hulle boeke bymekaargebring en verbrand” toe hulle die waarheid oor towery leer. Al was hierdie boeke baie duur, het hulle dit nog steeds verbrand sodat hulle dissipels van Jesus kon word.—Handelinge 19:19, Byington.

“Onlangse programme oor pragtige, verleidelike hekse op TV, in flieks en in boeke het gemaak dat al hoe meer jong meisies aan toorkuns glo.”—Gallup Youth Survey, 2014

Baie het vandag ook besluit om niks te doen, lees of kyk wat enigiets met towery of geeste te doen het nie. Toe Maria * 12 jaar oud was, het dit byvoorbeeld gelyk asof sy sekere dinge kon voorspel. Sy het vir haar skoolmaats tarotkaarte gelees. Omdat haar voorspellings waar geword het, het bonatuurlike dinge vir haar baie interessant geword.

Maria het gedink dat God haar hierdie spesiale krag gegee het sodat sy mense kon help. “Maar iets het my gepla”, sê sy. “Wanneer ek die kaarte gelees het, het dit net vir ander gewerk. Ek wou graag weet wat in my eie toekoms gaan gebeur, maar die kaarte wou nie my toekoms voorspel nie.”

Dit het Maria gepla dat sy so min antwoorde op haar vrae gehad het. Sy het toe tot God gebid. Jehovah se Getuies het haar later besoek en sy het die Bybel saam met hulle begin studeer. Maria het uit die Bybel geleer dat dit nie God is wat haar die krag gee om die toekoms te voorspel nie. Sy het ook geleer dat sy van alles ontslae moet raak wat met slegte geeste te doen het as sy God se vriend wil wees (1 Korintiërs 10:21). Wat was die resultaat? Maria het al haar goed weggegooi wat met towery te doen het. Nou help sy ander om ook die waarheid uit die Bybel te leer.

Toe Michael ’n tiener was, het hy baie graag boeke gelees oor bonatuurlike karakters in die fantasiewêreld. “Dit was vir my lekker om oor jong helde te lees wat ander wêrelde ontdek”, sê hy. Stadig maar seker het Michael ook boeke oor towery en Satanisme begin lees. Hy verduidelik: “Omdat ek nuuskierig was, het ek begin belangstel in boeke en flieks wat hieroor gaan.”

Maar Michael het uit die Bybel geleer dat hy baie versigtig moet wees oor watter boeke hy lees. Hy sê: “Ek het ’n lys gemaak van alles wat met bonatuurlike dinge en geeste te doen het en daarvan ontslae geraak. Ek het ’n belangrike les geleer. Die Bybel sê in 1 Korintiërs 10:31 dat ons ‘alles tot heerlikheid van God’ moet doen. Voordat ek nou enigiets lees, vra ek: ‘Sal ek heerlikheid aan God bring as ek hierdie boek lees?’ As die antwoord ‘Nee’ is, los ek dit.”

Dit is geen wonder dat die Bybel met ’n lamp vergelyk word nie. Soos ’n lamp ons help om gevare in die donker te sien, help die Bybel ons om te sien hoe gevaarlik enigiets is wat met bonatuurlike dinge te doen het (Psalm 119:105). Maar die Bybel doen selfs meer as dit. Dit belowe ook dat daar ’n tyd sal kom wanneer slegte geeste geen invloed meer op ons sal hê nie. Wat ’n pragtige toekoms vir die mensdom! Psalm 37:10, 11 sê byvoorbeeld: “En nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”

^ par. 10 Name in hierdie artikel is verander.