Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

IS DIT ONTWERP?

Die manier waarop die heuningby land

Die manier waarop die heuningby land

HEUNINGBYE kan sonder moeite uit amper enige rigting of hoek land. Hoe kry hulle dit reg?

Dink hieraan: Voordat hy veilig kan land, moet die heuningby eers stadiger vlieg en amper tot stilstand kom. Een manier om dit te doen, is om sy spoed te verminder nadat hy bepaal het hoe vinnig hy vlieg en hoe ver die plek is waarop hy wil land. Maar die meeste insekte kan dit nie doen nie omdat hulle oë te naby aan mekaar sit en hulle nie die fokus daarvan kan aanpas nie.

Mense kan diepte of afstand skat omdat albei hulle oë op een beeld kan fokus. Maar heuningbye skat afstand baie anders as mense. Dit is asof hulle eenvoudig weet dat voorwerpe groter lyk hoe nader hulle daaraan kom. En hoe nader hulle aan iets kom, hoe vinniger word dit groter. Volgens eksperimente wat by die Australiese Nasionale Universiteit gedoen is, weet heuningbye dat hulle stadiger moet vlieg as die voorwerp te vinnig groter word. Teen die tyd dat die heuningby wil land, het hy amper heeltemal tot stilstand gekom sodat hy dit veilig kan doen.

Die tydskrif Proceedings of the National Academy of Sciences sê: “Ingenieurs probeer die eenvoudige manier waarop heuningbye land, gebruik om robotvliegtuie te verbeter.”

Wat dink jy? Het die manier waarop die heuningby land deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?