HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK
Wanneer die kinders die huis verlaat het
DIE UITDAGING
Egpare kom dikwels voor hulle grootste uitdagings te staan wanneer hulle kinders groot is en die huis verlaat het. Die leë nes kan hulle dan laat voel asof hulle vreemdelinge vir mekaar is. “Baie egpare kom na my toe vir raad oor hoe hulle weer die hegte band tussen hulle kan herstel”, skryf die gesinsraadgewer M. Gary Neuman. “Wanneer die kinders eers uit die huis is, het [ouers] nie meer veel om oor te gesels of om met mekaar te deel nie.” *
Kan dit ook van julle huwelik gesê word? Moenie bekommerd wees nie, julle kan weer julle verhouding herstel. Kom ons kyk eers na ’n paar redes waarom julle van mekaar af weggedryf het.
WAAROM DIT GEBEUR
Vir jare het die kinders eerste gekom. Baie ouers bedoel goed en stel hulle kinders se behoeftes bo dié van hulle huwelik. Hulle raak dan so gewoond daaraan om pa en ma te wees, dat hulle vergeet dat hulle man en vrou is. En dit raak baie duidelik wanneer die kinders skielik nie meer daar is nie. “Toe die kinders daar was, het ons darem nog dinge saam gedoen”, sê ’n 59-jarige vrou. Nadat die kinders die huis verlaat het, “het ons elkeen ons eie paadjie gevolg”, erken sy. Op ’n stadium het sy selfs vir haar man gesê: “Ons is net in mekaar se pad.”
Party egpare is nie gereed vir hierdie nuwe fase in hulle lewe nie. “Vir baie egpare voel dit amper asof hulle pas getroud is”, sê die boek Empty Nesting. Baie mans en vrouens voel dat hulle min in gemeen het en begin dan hulle eie belangstellings najaag. Op die ou end voel hulle nie meer soos huweliksmaats nie, maar soos kamermaats.
Die goeie nuus is, julle kan die struikelblokke oorkom—en selfs die voordele geniet—van hierdie nuwe hoofstuk in julle lewe. Die Bybel kan julle hiermee help. Kom ons kyk hoe.
WAT JY KAN DOEN
Wees vasbeslote om die verandering te aanvaar. Die Bybel sê oor volwasse kinders: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat” (Genesis 2:24). Was dit nie juis julle doel as ouers nie? Julle het julle kinders opgelei en vaardighede geleer sodat hulle op hulle eie voete kan staan. Om die waarheid te sê, ’n mens behoort eintlik trots te voel as jou kind die huis verlaat.—Bybelwaarheid: Markus 10:7.
Jy sal natuurlik nooit ophou om ’n ouer te wees vir jou kinders nie. Maar jy staan nou eerder op die kantlyn, en kan jou kinders raad gee wanneer hulle daarvoor vra. Op hierdie manier kan jy nog steeds na aan jou kinders wees, maar jou huweliksmaat eerste stel. *—Bybelwaarheid: Matteus 19:6.
Sê hoe jy voel. Praat met jou maat oor hoe hierdie groot verandering jou raak en wees ook bereid om na jou maat se gevoelens te luister. Wees geduldig en probeer jou indink hoe jou maat voel. Dit sal tyd neem om julle band te versterk, maar dit is die moeite werd.—Bybelwaarheid: 1 Korintiërs 13:4.
Soek na nuwe dinge om saam te doen. Gesels oor doelwitte wat julle saam wil bereik en dinge wat julle as ’n paartjie saam wil doen en leer. Julle jare as ouers het julle baie wysheid geleer. Gebruik dit gerus om ander te help.—Bybelwaarheid: Job 12:12.
Versterk julle huweliksband. Hoekom het julle van mekaar begin hou? Watter eienskappe van jou maat het jy waardeer? Dink aan al die dinge wat julle deurgemaak het en aan die goeie herinneringe wat julle het. Aan die einde van die dag kan hierdie nuwe hoofstuk in julle lewe goed wees. Die feit is, as julle saamwerk, kan julle hierdie geleentheid gebruik om die gehalte van julle huwelik te verbeter en daardie eerste liefde weer te laat blom.
^ par. 4 Uit die boek Emotional Infidelity.
^ par. 12 As julle kinders nog in die huis is, moet julle onthou dat julle as huweliksmaats “een vlees” is (Markus 10:8). Dit laat kinders veilig voel as hulle sien dat hulle ouers ’n sterk verhouding met mekaar het.