Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Eers nonne, maar nou ware geestelike susters

Eers nonne, maar nou ware geestelike susters

BAIE jare gelede het my jonger suster Araceli kwaad geword en geskreeu: “Hou op om met my te praat. Ek wil niks verder van jou godsdiens hoor nie. Dit maak my siek. Ek haat jou!” Haar woorde het my baie seergemaak. Ek is nou 91 jaar oud en ek onthou daardie woorde nog baie goed. Maar soos Prediker 7:8 sê: “Die uiteinde van ’n saak is beter as sy begin.”—Felisa.

Felisa: Ek het in ’n nederige gesin in Spanje grootgeword. Ons was Katolieke en was baie godsdienstig. Trouens, 13 van my familielede was priesters of het vir die kerk gewerk. My ma se neef was ’n priester en ’n onderwyser by ’n Katolieke skool. Ná sy dood het pous Johannes-Paulus II hom vereer deur hom salig te verklaar. My pa was ’n ystersmid, en my ma het op die landerye gewerk. Ons was agt kinders, en ek was die oudste.

Toe ek 12 was, het ’n burgeroorlog in Spanje uitgebreek. Ná die oorlog is my pa tronk toe gestuur omdat die regering nie van sy politieke idees gehou het nie. Dit was moeilik vir my ma om genoeg kos aan ons almal te voorsien. Daarom het sy my drie jonger susters, Araceli, Lauri en Ramoni, na ’n nonneklooster in die stad Bilbao gestuur. Daar sou my susters genoeg kos hê om te eet.

Araceli: Op daardie stadium was ek 14 jaar oud, Lauri was 12 en Ramoni was 10. Ons het baie na ons gesin verlang. Ons het skoonmaakwerk by die klooster gedoen. Twee jaar later het die nonne ons gestuur na ’n groot klooster in Zaragoza wat na bejaardes omgesien het. Ons moes die kombuis skoonmaak. Dit was harde en uitputtende werk.

Felisa: Toe my susters na die klooster in Zaragoza gestuur is, het my ma en my oom, wat die plaaslike priester was, besluit om my ook daarheen te stuur. Hulle wou my weghou van ’n seun wat van my gehou het. Ek het daarna uitgesien om na die klooster te gaan, want ek was lief vir God. Ek het elke dag kerk toe gegaan en ek wou selfs ’n Katolieke sendeling word soos my neef in Afrika.

Links: Die klooster in Zaragoza, Spanje; regs: Nácar-Colunga-Bybelvertaling

Maar by die klooster het dit gevoel of ek baie van die dinge wat ek wou doen, nie kon doen nie. Die nonne het my nie aangespoor om God in ’n ander land te gaan dien soos ek gehoop het hulle sal doen nie. Ek het dus ’n jaar later teruggekeer huis toe en my oom, die priester, gaan help. Ek het die huis vir hom skoongemaak, en ons het elke aand die rosekrans, ’n reeks gebede, saam gebid. Ek het ook daarvan gehou om die blomme in die kerk te rangskik en die beelde van Maria en die “heiliges” te versier.

Araceli: Terwyl ek in Zaragoza was, het ek my eerste geloftes afgelê om ’n non te word. Toe het die nonne besluit om my en my susters van mekaar te skei. Hulle het my dus na ’n klooster in Madrid gestuur, en Lauri na ’n klooster in Valencia. Ramoni het in Zaragoza agtergebly. In Madrid het ek my tweede stel geloftes afgelê om ’n non te word. Baie mense, soos studente en bejaardes, het by die klooster kom bly. Daar was dus baie werk om te doen. Ek het in die klooster se siekeboeg gewerk.

Ek het uitgesien na my lewe as ’n non. Ek het gedink dat ons baie tyd daaraan sou bestee om die Bybel te lees en meer daaroor te leer. Maar ek is teleurgestel. Niemand het die Bybel gebruik of selfs oor God of Jesus gepraat nie. Ek het net ’n bietjie Latyn geleer, die lewe van Katolieke “heiliges” bestudeer en Maria aanbid. Maar ons het meestal net hard gewerk.

Ek het gespanne en bekommerd begin raak. Ek het gedink dat ek eerder geld moet verdien om my gesin te help as om by die klooster te werk en ander mense ryk te maak. Daarom het ek met die moederowerste hieroor gepraat en vir haar gesê dat ek die klooster wil verlaat. Sy het my egter in ’n sel toegesluit omdat sy gedink het dat dit my sou oortuig om te bly.

Later het die nonne my uit die sel laat kom, maar toe hulle besef dat ek nog steeds die klooster wil verlaat, het hulle my weer in die sel toegesluit. Nadat hulle dit drie keer gedoen het, het hulle gesê dat ek kan gaan as ek die volgende skryf: “Ek gaan weg omdat ek verkies om Satan eerder as God te dien.” Ek was geskok. Ek wou die klooster baie graag verlaat, maar ek wou nie daardie woorde neerskryf nie. Uiteindelik het ek gesê dat ek met ’n priester wil praat, en ek het hom vertel wat gebeur het. Hy het toestemming van die biskop ontvang om my na die klooster in Zaragoza terug te stuur. Ná ’n paar maande daar is ek toegelaat om die klooster te verlaat. Kort daarna het Lauri en Ramoni ook die klooster verlaat.

’N BOEK WAT ONS VERDEEL HET

Felisa

Felisa: Heelwat later het ek getrou en in Cantabria, ’n provinsie in Spanje, gaan woon. Ek het nog steeds gereeld kerk toe gegaan. Een Sondag in die kerk het die priester woedend geskreeu: “Kyk na hierdie boek!” Hy het die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe in sy hand gehad. Hy het gesê: “As iemand vir jou hierdie boek gegee het, gee dit vir my of gooi dit weg!”

Ek het nie daardie boek gehad nie, maar ek wou een hê. ’n Paar dae later het twee vroue aan my deur geklop. Hulle was Jehovah se Getuies en hulle het daardie boek vir my aangebied. Ek het dit nog dieselfde nag gelees. Toe die vroue terugkeer, het hulle my gevra of ek ’n Bybelstudie wil hê, en ek het ja gesê.

Die Waarheid-boek

Ek wou God nog altyd behaag. Nou het ek die waarheid omtrent Jehovah geleer en baie lief vir hom geword. Ek wou almal van hom vertel. Ek is in 1973 gedoop. Wanneer ek ook al kon, het ek probeer om met my familie oor die waarheid te praat. Maar my familie, veral my suster Araceli, het bly sê dat wat ek glo, verkeerd is.

Araceli: Omdat ek so sleg behandel is by die klooster, was ek kwaad vir my godsdiens en ongelukkig daarmee. Ek het nietemin kerk toe gegaan op Sondae, en ek het die rosekrans elke dag gebid. Ek wou nog steeds die Bybel verstaan en ek het God om hulp gevra. Toe het Felisa my vertel wat sy geleer het. Sy was so opgewonde oor wat sy geglo het dat ek gedink het dat sy mal geword het. Ek het nie saamgestem met wat sy gesê het nie.

Araceli

Ek is later terug na Madrid toe vir werk, en ’n ruk daarna het ek getrou. Oor die jare heen het ek agtergekom dat mense wat gereeld kerk toe gaan, nie werklik volgens Jesus se leringe lewe nie. Daarom het ek opgehou om kerk toe te gaan. Ek het nie meer aan “heiliges” of die helse vuur geglo nie en ek het ook nie geglo dat ’n priester sondes kan vergewe nie. Ek het selfs van al my godsdiensbeelde ontslae geraak. Ek het nie geweet of ek die regte ding doen nie. Ek was teleurgesteld, maar ek het tot God bly bid: “Ek wil u graag leer ken. Help my!” Ek onthou dat Jehovah se Getuies baie keer aan my deur geklop het, maar ek het nooit vir hulle oopgemaak nie. Ek het geen godsdiens vertrou nie.

My suster Lauri het in Frankryk gebly, en Ramoni was in Spanje. In die vroeë 1980’s het hulle die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Ek was seker dat hulle, net soos Felisa, nie besef het dat wat hulle leer, leuens is nie. Later het ek Angelines, my buurvrou, ontmoet, en ons het hegte vriende geword. Sy was ook een van Jehovah se Getuies. Angelines en haar man het my baie keer gevra of ek die Bybel saam met hulle wil studeer. Al het ek gesê dat ek nie in godsdiens belangstel nie, het hulle besef dat ek graag meer omtrent die Bybel wil weet. Uiteindelik het ek vir hulle gesê: “Dis reg so. Maar ek sal slegs instem om saam met julle te studeer as ek my eie Bybel kan gebruik!” Ek het die Nácar-Colunga-vertaling van die Bybel gehad.

UITEINDELIK VERENIG DIE BYBEL ONS

Felisa: Toe ek in 1973 gedoop is, was daar omtrent 70 Getuies in Santander, die hoofstad van Cantabria. Ons moes ver reis om vir al die mense in die honderde dorpies in die provinsie te preek. Ons het dus per bus gereis en later ’n motor gebruik om van dorpie tot dorpie te gaan.

Ek het oor die jare heen met baie mense gestudeer, en 11 van hulle is gedoop. Die meeste van die mense met wie ek gestudeer het, was Katolieke. Ek moes geduldig met hulle wees. Net soos ek het hulle tyd nodig gehad om te besef dat hulle oortuigings verkeerd is. Ek het geweet dat slegs die Bybel en Jehovah se heilige gees ’n persoon kan help om sy denke te verander en die waarheid te verstaan (Hebreërs 4:12). My man, Bienvenido, wat vroeër ’n polisieman was, is in 1979 gedoop, en my ma het die Bybel kort voor haar dood begin studeer.

Araceli: Toe ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het ek gevoel dat ek hulle nie kan vertrou nie. Maar met verloop van tyd het ek nie meer so gevoel nie. Die Getuies het self toegepas wat hulle ander uit die Bybel geleer het. My geloof in Jehovah en die Bybel het toegeneem, en ek het baie gelukkiger geword. Party van my bure het die verandering in my gesien en vir my gesê: “Araceli, bly op die weg wat jy gekies het!”

Ek onthou hoe ek gebid het: “Dankie Jehovah dat u nie moed opgegee het met my nie en dat u my so baie geleenthede gegee het om te vind waarna ek gesoek het—die ware kennis van die Bybel.” Ek het my suster Felisa gevra om my te vergewe vir die gemene dinge wat ek vir haar gesê het. Van toe af het ons nie meer gestry nie; ons het dit eerder geniet om oor die Bybel te praat. Ek is in 1989 gedoop op die ouderdom van 61.

Felisa: Ek is nou 91 jaar oud. My man is oorlede, en ek kan nie meer so baie as voorheen doen nie. Maar ek lees nog elke dag die Bybel, en ek gaan vergaderinge toe en doen velddiens wanneer ek kan.

Araceli: Ek hou daarvan om met priesters en nonne oor Jehovah te praat, miskien omdat ek ’n non was. Ek het al interessante gesprekke met party van hulle gehad, en baie het al boeke en tydskrifte geneem. Ek onthou veral een priester. Nadat ek ’n paar keer met hom gepraat het, het hy met my saamgestem. Toe het hy vir my gesê: “Maar waarheen kan ek op my ouderdom gaan? Wat sal my gemeentelede en familie sê?” Ek het hom geantwoord: “En wat sal God sê?” Hy het besef dat ek reg is, en ek kon sien dat hy baie ongelukkig is. Maar hy het seker nie die moed gehad om te verander nie.

Ek sal nooit vergeet toe my man vir my gesê het dat hy saam met my na ’n vergadering wil gaan nie. Hy was al oor die 80 jaar oud toe hy sy eerste vergadering bygewoon het, en daarna het hy nooit van ’n vergadering weggebly nie. Hy het die Bybel gestudeer en aan die predikingswerk begin deelneem. Ek het baie wonderlike herinneringe aan die tyd wat ons saam in die bediening bestee het. Twee maande voor die dag dat hy gedoop sou word, is hy oorlede.

Felisa: Toe ek Jehovah begin dien het, het my drie jonger susters my teëgestaan. Maar later het hulle ook die waarheid aangeneem. Daar is min dinge wat my gelukkiger kon maak. Daarna kon ons tyd saam deurbring om oor ons geliefde God, Jehovah, en sy Woord te praat! Uiteindelik het ons almal Jehovah aanbid. *

^ par. 29 Araceli is 87 jaar oud, Felisa 91 en Ramoni 83. Hulle almal dien Jehovah nog getrou. Lauri is in 1990 oorlede en sy het ook getrou gebly aan Jehovah.