Hoe ’n seun sy pa gehelp het
Hoe ’n seun sy pa gehelp het
JAMES, van Engeland, is in sy vroeë dertigerjare en ly aan ernstige verstandelike gestremdheid en outisme in ’n ligte graad. Maar hy woon al baie jare lank die vergaderinge van Jehovah se Getuies saam met sy ma en suster by. Sy pa het egter nooit baie in hulle godsdiensoortuigings belanggestel nie. Een aand ná ’n vergadering waar daar gedemonstreer is hoe ons iemand wat ons ken, na die herdenking van Christus se dood kan nooi, het James vinnig na sy kamer gegaan. Besorg het sy ma hom gevolg en gevind dat hy wild deur ou nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! soek. Hy het een met ’n Gedenkmaaluitnodiging op die agterblad gekies en haastig na sy pa toe gegaan. Hy het eers na die prent en toe na sy pa gewys en gesê: “Pa!” Sy ma en pa het mekaar verbaas aangekyk, want hulle het besef dat James sy pa na die Gedenkmaal nooi. Sy pa het gesê dat hy dit dalk sal bywoon.
Die aand van die Gedenkmaal het James na sy pa se klerekas gegaan, ’n broek gekies, dit na sy pa toe geneem en gewys dat hy dit moet aantrek. Sy pa het geantwoord dat hy nie vergadering toe gaan nie. James en sy ma het dus alleen na die Koninkryksaal vertrek.
’n Ruk later het James egter al hoe minder sy samewerking gegee wanneer sy ma hom wou gereedmaak om gemeentelike vergaderinge by te woon, en hy het verkies om eerder saam met sy pa by die huis te bly. Toe, een Sondagoggend, wou James weer nie hê dat sy ma hom vir die vergadering gereedmaak nie. Tot haar groot verbasing het James se pa na hom toe gedraai en gesê: “James, sal jy vergadering toe gaan as ek vandag saamgaan?” James se gesig het opgehelder. Hy het sy pa omhels en “Ja!” gesê, en al drie het Koninkryksaal toe gegaan.
Van daardie dag af het James se pa al die Sondagvergaderinge bygewoon, en hy het kort voor lank gesê dat hy die ander vergaderinge ook sal moet bywoon as hy vordering wil maak (Hebreërs 10:24, 25). Hy het dit gedoen, en twee maande later het hy die Bybel gereeld begin studeer. Hy het vinnig vooruitgang gemaak, gou die nodige veranderinge in sy lewe aangebring en kort voor lank aan die Koninkrykspredikingswerk begin deelneem. ’n Jaar nadat hy die Bybel begin studeer het, het hy sy lewe aan Jehovah toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer. Hy dien op die oomblik as ’n bedieningskneg in sy gemeente. Nou is die hele gesin verenig in Jehovah se diens.