Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Samewerking bevorder geestelike vooruitgang

Samewerking bevorder geestelike vooruitgang

Samewerking bevorder geestelike vooruitgang

’N GEES van samewerking is noodsaaklik vir diegene wat vooruitgang daarin wil maak om ’n geestelikgesinde gesin op te bou. Toe Jehovah die eerste egpaar geskep het, het hy die belangrikheid van samewerking beklemtoon. Eva moes saam met Adam werk as sy “komplement” (Gen. 2:18). Die huwelik is bedoel om ’n spanpoging te wees, met die man en vrou wat mekaar ondersteun (Pred. 4:9-12). Samewerking is ook nodig om die rol te vervul wat Jehovah aan ouers en kinders toewys.

Gesinsaanbidding

Barry en Heidi het vyf kinders. Hulle vind dat dit hulle help om vooruitgang te maak as hulle saamwerk om die gesinsbybelstudie te hou. Barry verduidelik: “Vir die gesinstudie gee ek die kinders nou en dan klein toewysings. Ek vra hulle soms om kommentare voor te berei wat op artikels in die Ontwaak! gebaseer is. Ons hou ook oefensessies vir velddiens sodat elke kind voorbereid is om ’n aanbieding te doen.” Heidi voeg by: “Ons het almal ’n lys met geestelike doelwitte wat ons wil bereik, en ons kyk soms gedurende die gesinstudie weer daarna om te sien watter vooruitgang ons maak.” Hierdie egpaar vind ook dat gereelde aande sonder televisie die hele gesin ’n geleentheid bied om stil te lees.

Gemeentelike vergaderinge

Mike en Denise het vier kinders grootgemaak. Hoe het hulle gesin daarby baat gevind om saam te werk? Mike sê: “Selfs die beste planne val soms deur die mat, maar ons het gevind dat samewerking ons gehelp het om betyds by die vergaderinge te kom.” Denise verduidelik: “Toe die kinders groter geword het, het elkeen takies gehad om te doen. Kim, ons dogter, het gehelp om te kook en die tafel te dek.” Hulle seun Michael vertel: “Ons het op ’n Dinsdagaand ’n gemeentelike vergadering in ons huis gehad. Ons het dus die vertrek aan die kant gemaak, gestofsuig en die stoele reggesit.” Matthew, ’n ander seun, voeg by: “My pa het seker gemaak dat hy op vergaderingaande vroeg by die huis was sodat hy kon help om ons gereed te kry vir die vergadering.” Wat was die resultate?

Dit is werklik die moeite werd

Mike vertel: “In 1987 het ek en Denise as pioniers begin dien. Op daardie stadium was drie van ons kinders nog in die huis. Twee van hulle het ook pioniers geword, en die ander het aan Bethelbouprojekte gewerk. Nog ’n seën wat ons gesin geniet het, was om 40 verskillende persone te help om tot toewyding en doop te vorder. Ons het ook die voorreg gehad om as ’n gesin met bouprojekte te help, selfs in die buiteland.”

Ja, dit is werklik die moeite werd om as ’n gesin saam te werk. Is daar dalk nog maniere waarop julle in julle gesin met mekaar kan saamwerk? Julle kan daarvan seker wees dat ’n gees van samewerking julle gesin sal help om verdere geestelike vooruitgang te maak.

[Prent op bladsy 28]

Oefensessies help gesinslede om vooruitgang te maak in die veldbediening