Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Uit ons argief

“Ek leer om die kolporteurwerk elke dag al hoe meer te geniet”

“Ek leer om die kolporteurwerk elke dag al hoe meer te geniet”

IN 1886 is eenhonderd eksemplare van die Millennial Dawn, Deel I, van die Bybelhuis in Allegheny, Pennsilvanië, VSA, na Chicago, Illinois, gestuur. Charles Taze Russell het gehoop om die nuwe publikasie in boekwinkels te versprei. Een van die grootste firmas in die Verenigde State wat boeke oor godsdiens versprei het, het ingestem om ’n besending van die Millennial Dawn te ontvang. Maar twee weke later is die hele besending na die Bybelhuis teruggestuur.

Volgens berig het ’n bekende evangelis verontwaardig geraak toe hy sien dat die Millennial Dawn saam met sy boeke ten toon gestel word. As die boek op die rak bly, het hy woedend gesê, sal hy en al sy beroemde evangeliese vriende hulle boeke—en hulle sake—elders neem. Die verspreider het die Dawn-boeke teësinnig teruggestuur. Advertensies is ook in koerante geplaas. Maar teenstanders het toegesien dat die advertensiekontrakte gekanselleer word. Hoe sou hierdie nuwe publikasie dan waarheidsoekers bereik?

Die kolporteurs, soos hulle genoem is, was die sleutel. * In 1881 het Zion’s Watch Tower ’n oproep gedoen om 1 000 predikers wat Bybellektuur voltyds kon versprei. Hoewel daar net ’n paar honderd kolporteurs was, het hulle saadjies van waarheid in gedrukte vorm wyd en syd versprei. Teen 1897 is byna eenmiljoen Dawn-boeke versprei, hoofsaaklik deur die kolporteurs. Die meeste van hulle het gelewe van die klein vergoeding wat hulle ontvang het vir elke boek wat hulle versprei het of intekening op die Watch Tower wat hulle gekry het.

Wie was hierdie moedige kolporteurs? Van hulle het in hulle tienerjare begin, en ander in hulle latere jare. Baie was ongetroud of getroud sonder kinders, maar heelwat gesinne het ook by hulle geledere aangesluit. Gewone kolporteurs het lang dae gewerk, en hulpkolporteurs het een of twee uur per dag gewerk. Nie almal se gesondheid of omstandighede het hulle toegelaat om aan die kolporteurwerk deel te neem nie. Maar by ’n streekbyeenkoms in 1906 is daar vir diegene wat dit kon doen, gesê dat dit nie vir hulle nodig is om “baie geleerd of baie begaafd [te wees] of die tong van ’n engel te hê nie”.

Op byna elke vasteland het gewone mense ’n buitengewone werk verrig. Een broer het geskat dat hy in sewe jaar 15 000 boeke versprei het. Tog het hy gesê: “Ek het nie die kolporteurwerk betree om ’n boekverkoper te wees nie, maar eerder om ’n getuie vir Jehovah en sy waarheid te wees.” Waar die kolporteurs ook al gegaan het, het saadjies van waarheid wortelgeskiet en het groepe Bybelstudente begin toeneem.

Geestelikes het die kolporteurs geminag en hulle boeksmouse genoem. Die Watch Tower van 1892 het gesê: “Min ken [hulle] as die Here se ware verteenwoordigers of erken die waardigheid wat die Here in hulle nederigheid en selfopoffering sien.” ’n Kolporteur se lewe was beslis geen “bed van rose” nie, soos een van hulle dit gestel het. Stewige skoene en fietse was die vernaamste vervoermiddele. Wanneer geld skaars was, het kolporteurs boeke vir kos verruil. Ná ’n dag in die veld het die moeë maar vreugdevolle predikers na hulle tente en gehuurde kamers teruggekeer. Toe het die Kolporteurswa gekom, ’n tuisgemaakte woonwa wat baie tyd en geld gespaar het. *

Vanaf die streekbyeenkoms in 1893 in Chicago is spesiale sessies vir kolporteurs by die program ingesluit. Dit het bestaan uit ’n lewendige bespreking van ondervindinge, voorgestelde predikingstegnieke en praktiese raad. Broer Russell het hardwerkende predikers eenkeer aangespoor om ’n stewige ontbyt te eet, ’n glas melk in die middel van die oggend te drink en op ’n warm dag ’n koeldrank met roomys daarin te geniet.

Kolporteurs wat ’n velddiensmaat gesoek het, het ’n geel strikkie gedra. Nuwer kolporteurs het meer ervare kolporteurs as velddiensmaat gekry. Hierdie opleiding was blykbaar nodig, want ’n nuwe kolporteur het eenkeer die boeke senuweeagtig aangebied deur te sê: “Jy wil seker nie hierdie boeke hê nie, nè?” Gelukkig wou die huisbewoner dit hê, en sy het later ’n suster geword.

Een broer het gewonder: ‘Moet ek my winsgewende werk behou en $1 000 per jaar tot die predikingswerk bydra, of moet ek ’n kolporteur word?’ Daar is vir hom gesê dat die Here enigeen van die twee sou waardeer, maar dat dit vir hom groter seëninge sou meebring as hy sy tyd regstreeks vir die Here gee. Mary Hinds het die kolporteurwerk beskou as “die beste manier om die grootste voordeel vir die meeste mense mee te bring”. En die skaam Alberta Crosby het gesê: “Ek leer om die kolporteurwerk elke dag al hoe meer te geniet.”

Vandag is baie vleeslike en geestelike nakomelinge van die ywerige kolporteurs steeds getrou aan hulle geestelike erfenis. As daar nog nooit ’n kolporteur of ’n pionier in jou familie was nie, kan jy gerus jou eie familietradisie probeer begin. Jy sal ook leer om die voltydse predikingswerk elke dag al hoe meer te geniet.

[Voetnote]

^ par. 5 Ná 1931 is die benaming “kolporteur” deur “pionier” vervang.

^ par. 8 Besonderhede oor hierdie woonwaens sal in ’n toekomstige nommer verskyn.

[Lokteks op bladsy 32]

Dit was nie vir hulle nodig om “baie geleerd of baie begaafd [te wees] of die tong van ’n engel te hê nie”

[Prent op bladsy 31]

Kolporteur A.W. Osei in Ghana, omstreeks 1930

[Prente op bladsy 32]

Bo: Kolporteurs Edith Keen en Gertrude Morris in Engeland, omstreeks 1918; onder: Stanley Cossaboom en Henry Nonkes in die Verenigde State, met leë bokse waarin die boeke was wat hulle versprei het