Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan jy meer doen om ander te waarsku?

Kan jy meer doen om ander te waarsku?

’n Interessante stil rolprent met die titel A Trip Down Market Street boei kykers met ’n gedetailleerde uitbeelding van hoe die lewe aan die begin van die 20ste eeu in San Francisco, VSA, was. Rolprentmakers het ’n kamera wat met ’n handslinger werk, vooraan ’n bewegende kabelkar gemonteer en die lens op ’n besige straat gerig. Perdekoetse en outydse motors kan in die rolprent gesien word, sowel as koerantjoggies en mense wat inkopies doen.

Wat die rolprent nog treffender maak, is die feit dat dit waarskynlik in April 1906 verfilm is, kort voor die dodelike aardbewing en brand op 18 April wat duisende lewens geëis het en daardie gedeelte van die stad byna vernietig het. Party van die mense in die rolprent het waarskynlik net ’n paar dae gehad om te lewe. Scott Miles, ’n nakomeling van een van die rolprentmakers, sê: “Ek sien die mense [in die rolprent] wat nie weet wat hulle gaan tref nie. En ’n mens kan nie anders as om vir hulle jammer te voel nie.”

Die aardbewing van 1906 en die brand wat dit tot gevolg gehad het, het ’n groot deel van die middestad van San Francisco sonder waarskuwing vernietig

Die situasie kan met ons dag vergelyk word, en dit behoort ons ernstig te laat nadink. Ons kan ook nie anders as om vir ons medemens jammer te voel nie. Hulle gaan voort met hulle daaglikse bedrywighede, heeltemal onbewus van die rampspoed wat voorlê—die vernietiging van hierdie stelsel van dinge en van hulle lewenswyse. Maar anders as in die geval van ’n onvoorspelbare aardbewing is daar nog ’n kort tydjie oor waarin ons die geleentheid het om ons medemens oor Jehovah se dag van oordeel te waarsku. Jy sit waarskynlik elke week tyd opsy om aan die deur-tot-deur-bediening deel te neem, maar kan jy meer doen om ander te waarsku?

JESUS WAS NOOIT VAN DIENS AF NIE

Jesus se voorbeeld is opmerkenswaardig omdat hy altyd gewillig en gereed was om te preek. Hy het vir almal gepreek wat hy teëgekom het, hetsy dit ’n belastinggaarder was wat hy op die pad verbygegaan het of ’n vrou wat hy gedurende ’n ruskansie by ’n put ontmoet het (Luk. 19:1-5; Joh. 4:5-10, 21-24). Selfs wanneer hy tyd opsygesit het om te ontspan, het hy gewillig sy planne laat vaar sodat hy ander kon leer. Sy medelye met sy medemens het hom beweeg om nie net ’n oppervlakkige getuienis te gee nie (Mark. 6:30-34). Hoe word Jesus se gevoel van dringendheid vandag nagevolg?

HULLE BENUT ELKE GELEENTHEID

Melika bly in ’n woonstelgebou met baie goeie sekuriteit. Baie van haar bure is buitelandse studente wat ongelyste selfone gebruik en wie se name nie op die lys in die voorportaal verskyn nie. Sy waardeer die feit dat sy die spesiale geleentheid het om geestelike gesprekke met huurders in die voorportaal en hysbak te begin. Sy sê: “Op ’n manier beskou ek dit as my gebied.” Melika hou lektuur in verskeie tale by haar, en sy laat traktate en tydskrifte by baie mense. Sy vertel hulle ook van ons webwerf, jw.org. Sy het ’n hele paar Bybelstudies begin.

Sonia is ook op die uitkyk na geleenthede om te getuig vir enigiemand wat sy teëkom. Sy werk by ’n dokter se kliniek, en sy het haar ten doel gestel om aan elkeen van haar medewerkers ’n deeglike getuienis te gee. Eers het sy tyd geneem om uit te vind wat elkeen se behoeftes is en waarin hulle belangstel. Toe het sy haar etenstyd gebruik om afsonderlik met elkeen ’n geestelike gesprek aan te knoop. Gevolglik het Sonia twee Bybelstudies begin. Sy wil ook van haar etenstye in die voorportaal van die mediese sentrum deurbring om te praat met diegene wat vir hulle afspraak wag.

GRYP ELKE GELEENTHEID AAN

Een van die oorlewendes van die aardbewing van 1906 het dit “die verskriklikste ramp wat ’n staat of stad tot nog toe getref het”, genoem. Maar geen ramp kan vergelyk word met die dag van wraak wat binnekort sal kom oor al “dié wat God nie ken nie” (2 Tess. 1:8). Jehovah wil graag hê dat mense ’n verandering van hulle denke en hart moet ondergaan en moet reageer op die waarskuwingsboodskap wat sy Getuies bekend maak.—2 Pet. 3:9, vtn. in NW; Op. 14:6, 7

Kan jy elke geleentheid benut om vir ander te getuig terwyl jy met jou daaglikse bedrywighede besig is?

Jy het die voorreg om mense se oë te open vir die kritieke tye waarin ons lewe en hulle te help om selfsugtige begeertes die rug toe te keer sodat hulle Jehovah kan soek (Sef. 2:2, 3). Kan jy elke geleentheid benut om te getuig vir jou werksmaats, jou bure en die mense wat jy ontmoet terwyl jy met jou daaglikse bedrywighede besig is? Sal jy meer doen om ander te waarsku?