VOORBLADONDERWERP | WANNEER ’N GELIEFDE STERF
Hoe om jou droefheid te verwerk
Daar is nie ’n tekort aan raad oor hierdie onderwerp nie. Maar nie al die raad is nuttig nie. Jy sal byvoorbeeld vind dat party mense vir jou sê om nie te huil of enige emosie te toon nie. Ander sal jou dalk aanraai om die teenoorgestelde te doen en al jou gevoelens te wys. Die Bybel het ’n meer gebalanseerde beskouing, wat deur huidige navorsing gesteun word.
In party kulture word daar gemeen dat ’n man nie moet huil nie. Maar moet ’n mens werklik skaam wees om te huil, veral in die openbaar? Deskundiges op die gebied van geestesgesondheid erken dat dit normaal is om tranerig te wees wanneer ’n mens treur. En as jy treur, sal dit jou dalk help om jou droefheid in so ’n mate te oorkom dat jy kan voortgaan, ongeag hoe groot jou verlies is. Maar as jy jou droefheid onderdruk, kan dit meer skade as goed doen. Die Bybel ondersteun glad nie die idee dat dit verkeerd of onmanlik is om te huil as jy bedroef is nie. Dink byvoorbeeld aan Jesus. Hoewel hy die mag gehad het om die dooies op te wek, het hy openlik gehuil toe sy geliefde vriend Lasarus gesterf het!—Johannes 11:33-35.
Droefheid gaan dikwels gepaard met woede, veral wanneer ’n geliefde skielik en onverwags gesterf het. Daar is baie redes waarom ’n bedroefde persoon kwaad kan voel, soos wanneer ’n gerespekteerde persoon onbedagsame en ongegronde opmerkings maak. “Ek was maar 14 jaar oud toe my pa gesterf het”, verduidelik ’n Suid-Afrikaanse man met die naam Mike. “By die begrafnis het die Anglikaanse priester gesê dat God goeie mense nodig het en hulle vroeg kom haal. * Dit het my kwaad gemaak, want ons het my pa baie nodig gehad. Dit is nou 63 jaar later, en dit maak nog steeds seer.”
En wat van skuldgevoelens? Veral as ’n geliefde onverwags gesterf het, kan die bedroefde persoon herhaaldelik dink: ‘Dit sou dalk nie gebeur het as ek net dit of dat gedoen het nie.’ Of miskien het jy en die oorledene gestry toe julle mekaar laas gesien het. Dit kan tot jou skuldgevoelens bydra.
As jy geteister word deur skuldgevoelens en woede, is dit belangrik dat jy nie hierdie gevoelens opkrop nie. Praat eerder met ’n vriend wat sal luister en jou daarvan sal verseker dat irrasionele gevoelens algemeen is wanneer mense bedroef is. Die Bybel herinner ons: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.”—Spreuke 17:17.
Die beste Vriend wat ’n bedroefde persoon kan hê, is ons Skepper, Jehovah God. Stort jou hart in gebed voor hom uit, want hy is besorg oor jou (1 Petrus 5:7). Wanneer jy dit doen, belowe hy dat “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, jou sal vertroos en kalmte sal gee (Filippense 4:6, 7). En laat God toe om jou te help om te genees deur middel van sy vertroostende Woord, die Bybel. Maak ’n lys van tekste wat jou kan vertroos. (Sien bygaande venster.) Jy sal moontlik ’n paar wil memoriseer. As jy oor sulke gedagtes peins, kan dit jou veral saans help wanneer jy alleen is en nie kan slaap nie.—Jesaja 57:15.
Onlangs het ’n 40-jarige man, wat ons Jack sal noem, sy geliefde vrou weens kanker verloor. Jack sê dat hy soms verskriklik eensaam voel. Maar gebed het hom gehelp. “Wanneer ek tot Jehovah bid”, verduidelik hy, “voel ek nooit alleen nie. Ek word dikwels gedurende die nag wakker en kan nie weer slaap nie. Dan lees ek vertroostende woorde in die Bybel, peins ek daaroor en stort ek my hart in gebed uit. Daarna ervaar ek ’n gevoel van kalmte en onbeskryflike vrede wat my rustig laat voel en my help om te slaap.”
’n Jong vrou met die naam Vanessa het haar ma weens siekte verloor. Sy het ook die krag van gebed ondervind. “Wanneer die hartseer my oorweldig het,” sê sy, “het ek eenvoudig God se naam aangeroep en begin huil. Jehovah het my gebede verhoor en my altyd die nodige krag gegee.”
Party beraders stel voor dat diegene wat sukkel om droefheid te verwerk, hulle daarop moet toespits om ander te help of om iets vir die gemeenskap te doen. Dit kan hulle help om vreugde te vind en kan hulle droefheid verlig (Handelinge 20:35). Talle bedroefde Christene het gevind dat hulle groot vertroosting daaruit put om ander te help.—2 Korintiërs 1:3, 4.
^ par. 5 Dit is nie ’n Bybellering nie. Die Bybel openbaar dat daar drie dinge is wat die dood veroorsaak.—Prediker 9:11; Johannes 8:44; Romeine 5:12.