Vertel die Bybel ons die hele verhaal oor Jesus?
Kan dit wees dat Jesus nie by Golgota gesterf het, soos die Bybel sê nie, maar bly leef het? Is dit moontlik dat hy met Maria Magdalena getrou het en kinders by haar gehad het? Of was hy dalk ’n selfverloënende mistikus wat alle genot van die aardse lewe verwerp het? Is dit moontlik dat hy leerstellings aan ander geleer het wat verskil van wat ons in die Bybel lees?
SULKE bespiegelings het in onlangse jare gefloreer, ’n herlewing wat deels toegeskryf kan word aan gewilde flieks en romans. Behalwe vergesogte verhale het daar ook baie boeke en artikels verskyn wat die aandag vestig op apokriewe geskrifte uit die tweede en derde eeue HJ wat beweer dat dit feite oor Jesus openbaar wat in die Evangelies uitgelaat is. Is sulke bewerings dalk grondig? Kan ons seker wees dat die Bybel ons die hele, ware verhaal oor Jesus vertel?
Om hierdie vrae te beantwoord, sal dit nuttig wees om drie basiese onderwerpe te ondersoek. Eerstens is daar belangrike dinge wat ons moet weet omtrent die manne wat die Evangelieverslae geskryf het en wanneer hulle dit geskryf het; tweedens moet ons leer wie die kanon van die Skrif saamgestel het en hoe; en derdens moet ons kyk na die agtergrond van die apokriewe geskrifte en hoe dit van die kanonieke geskrifte verskil. *
Wanneer is die Christelike Griekse Geskrifte geskryf, en deur wie?
Volgens party bronne is die Evangelie van Matteus reeds in die agtste jaar ná Christus se dood geskryf, dit wil sê, omtrent 41 HJ. Baie geleerdes meen dat dit effens later geskryf is, maar hulle stem oor die algemeen saam dat al die boeke van die Christelike Griekse Geskrifte gedurende die eerste eeu HJ geskryf is.
Ooggetuies van Jesus se lewe, dood en opstanding het toe nog gelewe; hulle kon die Evangelieverslae bevestig. Hulle kon ook enige onjuisthede maklik blootlê. Professor F.F. Bruce sê: “Een van die sterk punte van die oorspronklike apostoliese predikingswerk is die vrymoedige beroep wat gedoen is op die kennis van die toehoorders; hulle het nie net gesê: ‘Ons is ooggetuies van hierdie dinge’ nie, maar ook: ‘Soos julle self ook weet’ (Handelinge 2:22).”
Wie was die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte? Onder hulle was van Jesus se 12 apostels. Hierdie en ander Bybelskrywers, soos Jakobus, Judas en waarskynlik Markus, was teenwoordig op Pinksterdag 33 HJ toe die Christengemeente gestig is. Al die skrywers, insluitende Paulus, was ten nouste verenig met die oorspronklike bestuursliggaam van die vroeë Christengemeente, wat uit die apostels en die ouer manne in Jerusalem bestaan het.—Handelinge 15:2, 6, 12-14, 22; Galasiërs 2:7-10.
Jesus het sy volgelinge beveel om voort te gaan met die predikings- en onderrigtingswerk wat hy begin het (Matteus 28:19, 20). Hy het selfs gesê: “Wie na julle luister, luister na my ook” (Lukas 10:16). Verder het hy hulle belowe dat God se heilige gees, of werkende krag, hulle die nodige krag sou gee om hierdie werk te doen. Toe geskrifte dus van die apostels gekom het of van dié wat ten nouste met hulle saamgewerk het—manne wat duidelike bewys gelewer het dat hulle met God se heilige gees geseën is—het die vroeë Christene sulke boeke natuurlik as gesaghebbend aanvaar.
Party Bybelskrywers het die gesag en goddelike inspirasie van hulle medeskrywers bevestig. Byvoorbeeld, die apostel Petrus het na die briewe van Paulus verwys en dit aan “die res van die Skrif” gelykgestel (2 Petrus 3:15, 16). Paulus het op sy beurt erken dat die apostels en ander Christenprofete deur God geïnspireer is.—Efesiërs 3:5.
Die Evangelieverslae maak dus tereg daarop aanspraak dat dit betroubaar en eg is. Dit is nie bloot legendes en stories nie. Dit is noukeurig opgetekende geskiedenis, gebaseer op ooggetuieverslae en neergeskryf deur mans wat deur God se heilige gees geïnspireer is.
Wie het die kanon saamgestel?
Party skrywers het beweer dat die kanon van die Christelike Griekse Geskrifte eeue later saamgestel is deur ’n kerk wat ’n gevestigde mag was onder die leiding van die keiser Konstantyn. Maar die feite bewys die teendeel.
Let byvoorbeeld op wat die professor van Kerkgeskiedenis Oskar Skarsaune sê: “Watter geskrifte in die Nuwe Testament ingesluit sou word, en watter nie, was nooit die besluit van enige kerkraad of enige enkele persoon nie . . . Die maatstaf was heel duidelik en baie redelik: Geskrifte uit die eerste eeu HJ wat beskou is as werke van die apostels of hulle medewerkers, is as betroubaar geag. Ander geskrifte, briewe of ‘evangelies’ wat later geskryf is, is nie ingesluit nie . . . Hierdie proses was feitlik voltooi lank voor Konstantyn en lank voordat sy kerk van mag gestig is. Dit was die kerk van martelaars, nie die kerk van mag nie, wat ons die Nuwe Testament gegee het.”
Ken Berding, ’n medeprofessor, wie se studieveld die Christelike Griekse Geskrifte is, lewer hierdie kommentaar oor hoe die kanon tot stand gekom het: “Die kerk het nie ’n kanon volgens sy eie keuse saamgestel nie; dit is meer gepas om te sê dat die kerk die boeke aanvaar het wat Christene nog altyd as ’n gesaghebbende Woord van God beskou het.”
Maar was dit slegs hierdie nederige eerste-eeuse Christene wat die kanon saamgestel het? Die Bybel sê vir ons dat iets baie belangrikers—en baie kragtigers—aan die werk was.
Volgens die Bybel is een van die wonderdadige gawes van die gees wat in die vroeë dekades aan die Christengemeente gegee is, “die onderskeiding van geïnspireerde uitinge” (1 Korintiërs 12:4, 10). Party van hierdie Christene is dus ’n bomenslike vermoë gegee om die verskil raak te sien tussen uitinge wat werklik deur God geïnspireer is en die wat nie geïnspireer is nie. Vandag kan Christene dus vol vertroue wees dat die Geskrifte wat in die Bybel ingesluit is, as geïnspireerd aanvaar is.
Klaarblyklik is die kanon dus op ’n vroeë stadium onder leiding van die heilige gees saamgestel. Teen die einde van die tweede eeu HJ het party skrywers kommentaar gelewer oor die kanonisiteit van die Bybelboeke. Hierdie skrywers het egter nie die kanon saamgestel nie; hulle het net bevestig wat God reeds aanvaar het deur middel van sy verteenwoordigers, wat deur sy gees gelei is.
Eertydse manuskripte voorsien ook oortuigende bewys ter ondersteuning van die kanon wat vandag algemeen aanvaar word. Daar is meer as 5 000 manuskripte van die Griekse Geskrifte in die oorspronklike taal, insluitende ’n paar uit die tweede en derde eeu. Dit was hierdie geskrifte, nie die apokriewe geskrifte nie, wat gedurende die vroeë eeue HJ as gesaghebbend beskou is en dus oorgeskryf en wyd versprei is.
Maar die inhoud lewer die belangrikste bewys van kanonisiteit. Die kanonieke geskrifte stem ooreen met “die patroon van gesonde woorde” wat ons in die res van die Bybel vind (2 Timoteus 1:13). Dit spoor lesers aan om Jehovah lief te hê, te aanbid en te dien, en dit waarsku teen bygelowigheid, demonisme en skepselaanbidding. Dit is geskiedkundig akkuraat en bevat ware profesieë. En dit spoor lesers aan om hulle medemens lief te hê. Die boeke van die Christelike Griekse Geskrifte het al hierdie besondere kenmerke. Wat van die apokriewe geskrifte?
Hoe is die apokriewe geskrifte anders?
Die apokriewe geskrifte verskil grootliks van die kanonieke geskrifte. Hierdie apokriewe boeke dateer uit omtrent die middel van die tweede eeu, baie later as die kanonieke geskrifte. Dit skilder ’n prentjie van Jesus en die Christelike geloof wat nie met die geïnspireerde Geskrifte ooreenstem nie.
Byvoorbeeld, die apokriewe Evangelie van Tomas beweer dat Jesus ’n paar vreemde dinge gesê het, soos dat hy Maria in ’n man sou verander om dit vir haar moontlik te maak om in die Koninkryk van die hemele in te gaan. Die Kindertydevangelie van Tomas beskryf jong Jesus as ’n gemene kind wat opsetlik ’n ander kind se dood veroorsaak het. Die apokriewe Handelinge van Paulus en Handelinge van Petrus beklemtoon algehele onthouding van geslagsomgang en beweer selfs dat die apostels vrouens aangespoor het om hulle mans te verlaat. Die Evangelie van Judas vertel dat Jesus sy dissipels uitgelag het omdat hulle tot God gebid het oor ’n maaltyd. Sulke idees is in stryd met wat in die kanonieke boeke gevind word.—Markus 14:22; 1 Korintiërs 7:3-5; Galasiërs 3:28; Hebreërs 7:26.
Baie van die apokriewe geskrifte weerspieël die oortuigings van die Gnostici, wat geglo het dat die Skepper, Jehovah, nie ’n goeie God is nie. Hulle het ook geglo dat die opstanding nie letterlik is nie, dat alle materie sleg is en dat die huwelik en voortplanting sy oorsprong by Satan het.
’n Aantal apokriewe boeke word verkeerdelik aan Bybelkarakters toegeskryf. Is hierdie boeke uit die Bybel uitgesluit weens ’n duistere sameswering? Een deskundige oor die apokriewe boeke, M.R. James, het gesê: “Daar is geen sprake dat enigiemand hierdie boeke uit die Nuwe Testament uitgesluit het nie: hierdie boeke het dit self gedoen.”
Bybelskrywers het teen ’n komende afvalligheid gewaarsku
In die kanonieke geskrifte vind ons ’n aantal waarskuwings oor ’n naderende afvalligheid wat die Christengemeente sou besmet. Trouens, hierdie afvalligheid het reeds in die eerste eeu begin, maar die apostels het gekeer dat dit versprei (Handelinge 20:30; 2 Tessalonisense 2:3, 6, 7; 1 Timoteus 4:1-3; 2 Petrus 2:1; 1 Johannes 2:18, 19; 4:1-3). Sulke waarskuwings werp lig op die geskrifte wat ná die dood van die apostels verskyn het, geskrifte wat in stryd is met Jesus se leringe.
Sulke dokumente lyk dalk wel vir party geleerdes en geskiedkundiges oud en waardig om heilig geag te word. Maar dink hieraan: Gestel geleerdes versamel ’n klomp twyfelagtige geskrifte wat vandag gedruk word, dalk uit skindertydskrifte en die publikasies van radikale godsdienskultusse, en sluit dit dan in ’n kluis toe. Sou hierdie geskrifte met verloop van tyd waaragtig en betroubaar word? Sou die leuens en onsin op hierdie bladsye ná 1 700 jaar waar word bloot omdat die dokumente baie oud is?
Natuurlik nie! Dieselfde geld vir bewerings dat Jesus met Maria Magdalena getrou het en ander verregaande stellings uit die apokriewe boeke. Waarom sou ’n mens sulke onbetroubare bronne vertrou, veral wanneer betroubare bronne beskikbaar is? Alles wat God wil hê dat ons oor sy Seun moet weet, is in die Bybel—’n verslag waarop ons kan staatmaak.
^ par. 4 Die woord “kanon” verwys na die versameling van Bybelboeke wat oortuigende bewys lewer dat dit deur God geïnspireer is. Daar is 66 boeke wat algemeen erken word as kanoniek en wat ’n belangrike en onontbeerlike deel van God se Woord is.