Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg hulle geloof na

“Waar u gaan, sal ek gaan”

“Waar u gaan, sal ek gaan”

RUT het langs Naomi geloop op ’n pad wat oor die hoë, winderige vlaktes van Moab gestrek het. Hulle was nou alleen, twee klein figure op die uitgestrekte landskap. Rut merk op hoe die namiddagskaduwees langer word, en dan kyk sy na haar skoonma terwyl sy wonder of dit tyd is om ’n rusplek vir die aand te vind. Sy is baie lief vir Naomi en sal alles in haar vermoë doen om vir haar te sorg.

Elkeen van hierdie vroue het groot hartseer met haar saamgedra. Naomi is al jare lank ’n weduwee, maar sy het oor onlangser verliese getreur—die dood van haar twee seuns Giljon en Maglon. Rut het ook getreur. Maglon was haar man. Sy en Naomi was op pad na dieselfde plek, die dorp Betlehem in Israel. Maar in ’n sekere opsig was hulle reis tog verskillend. Naomi was op pad huis toe. Rut het die onbekende aangedurf en sou haar familie, haar geboorteland en al sy gebruike—insluitende sy gode—agterlaat.—Rut 1:3-6.

Wat sou ’n jong vrou beweeg om so ’n drastiese verandering te maak? Waar sou Rut die krag vandaan kry om ’n nuwe lewe te bou en vir Naomi te sorg? Die antwoorde op hierdie vrae sal baie redes openbaar waarom ons Rut se geloof kan navolg. Kom ons kyk eerstens wat daartoe gelei het dat hierdie twee vroue op daardie lang pad na Betlehem was.

’n Gesin uitmekaargeskeur deur tragedie

Rut het grootgeword in Moab, ’n klein land wat oos van die Dooie See geleë was. Die grootste deel van die gebied het bestaan uit hoë, yl beboste tafellande waardeur diep klowe gesny het. “Die gebied van Moab” was ’n vrugbare landbougebied, selfs toe hongersnood Israel geteister het. Trouens, dit is wat daartoe aanleiding gegee het dat Rut Maglon en sy gesin leer ken het.—Rut 1:1.

’n Hongersnood in Israel het Naomi se man, Elimeleg, noodgedwonge laat besluit om saam met sy vrou en twee seuns hulle geboorteland te verlaat en as vreemdelinge in Moab te gaan woon. Die verandering het die geloof van elke gesinslid ongetwyfeld getoets, aangesien Israeliete gereeld by die heilige plek moes aanbid wat Jehovah aangewys het (Deuteronomium 16:16, 17). Naomi het daarin geslaag om haar geloof lewend te hou. Nietemin was sy diep bedroef toe haar man gesterf het.—Rut 1:2, 3.

Sy het heel moontlik weer later hartseer ervaar toe haar seuns met Moabitiese vroue getrou het (Rut 1:4). Naomi het geweet dat haar nasie se voorvader, Abraham, groot moeite gedoen het om ’n vrou vir sy seun, Isak, onder sy eie volk te vind, wat aanbidders van Jehovah was (Genesis 24:3, 4). Later het die Mosaïese Wet die Israeliete gewaarsku dat hulle nie hulle seuns en dogters met uitlanders moes laat trou nie, uit vrees dat God se volk by afgodediens betrokke sou raak.—Deuteronomium 7:3, 4. *

Nietemin het Maglon en Giljon met Moabitiese vroue getrou. As Naomi besorg of teleurgesteld was, het sy nogtans seker gemaak dat sy ware goedhartigheid en liefde teenoor haar skoondogters, Rut en Orpa, betoon het. Miskien het sy gehoop dat hulle Jehovah ook eendag, soos sy, sou begin aanbid. Hoe dit ook al sy, Rut sowel as Orpa was lief vir Naomi. Die goeie verhouding wat hulle gehad het, het hulle gehelp toe tragedie hulle getref het. Voordat hulle kinders gekry het, het albei weduwees geword.—Rut 1:5.

Het Rut se godsdiensagtergrond haar op so ’n tragedie voorberei? Waarskynlik nie. Die Moabiete het baie gode aanbid, waarvan Kamos die vernaamste onder hulle was (Numeri 21:29). Die Moabitiese godsdiens was blykbaar nie vry van die wreedheid en afgryse, insluitende kinderofferandes, wat in daardie tyd algemeen was nie. Enigiets wat Rut by Maglon of Naomi oor die liefdevolle en barmhartige God van Israel, Jehovah, geleer het, het haar ongetwyfeld laat besef dat daar ’n merkbare verskil is. Jehovah het op grond van liefde regeer, nie verskrikking nie! (Deuteronomium 6:5). Ná Rut se verpletterende verlies, het sy selfs nader aan Naomi gekom en graag na die ouer vrou geluister terwyl sy gepraat het oor die almagtige God, Jehovah, sy wonderlike werke en die liefdevolle, barmhartige manier waarop hy met sy volk gehandel het.

Naomi wou natuurlik graag nuus oor haar geboorteland te ontvang. Sy het eendag, dalk by ’n reisende koopman, gehoor dat die hongersnood in Israel verby was. Jehovah het sy aandag op sy volk gerig. Betlehem, wat “Huis van brood” beteken, het weer eens sy naam gestand gedoen. Naomi het besluit om terug te gaan huis toe.—Rut 1:6.

Wat sou Rut en Orpa doen? (Rut 1:7). As gevolg van wat hulle saam deurgemaak het, het hulle geheg geraak aan Naomi. Blykbaar het veral Rut aangetrokke gevoel tot Naomi se goedhartigheid en haar onwrikbare geloof in Jehovah. Die drie weduwees het hulle reis na Juda begin.

Die verhaal van Rut herinner ons daaraan dat goeie, eerlike mense sowel as slegte mense deur tragedie en verlies geraak word (Prediker 9:2, 11). Dit toon ook vir ons dat dit verstandig is om vertroosting en bemoediging by ander te soek wanneer ons ’n ondraaglike verlies gely het—veral diegene wat toevlug soek by Jehovah, die God wat Naomi aanbid het.—Spreuke 17:17.

Rut se lojale liefde

Nadat die drie weduwees kilometers ver geloop het, het Naomi haar oor iets anders begin bekommer. Sy het gedink aan die twee jong vroue by haar en die liefde wat hulle teenoor haar en haar seuns betoon het. Die gedagte om hulle laste selfs swaarder te maak, was vir haar eenvoudig te veel. As hulle hulle geboorteland verlaat en saam met haar kom, wat kan sy vir hulle in Betlehem doen?

Uiteindelik het Naomi gesê wat sy dink: “Gaan, keer terug, elkeen na die huis van haar moeder. Mag Jehovah liefderyke goedhartigheid teenoor julle bewys, net soos julle dit teenoor die manne wat nou dood is en teenoor my bewys het.” Sy het die hoop uitgespreek dat Jehovah hulle sou beloon met ’n ander huweliksmaat en ’n nuwe lewe. “Toe het sy hulle gesoen”, sê die verslag, “en hulle het hulle stem begin verhef en gehuil.” Dit is nie moeilik om te sien waarom Rut en Orpa so geheg was aan hierdie goedhartige en onselfsugtige vrou nie. Hulle albei het bly sê: “Nee, maar saam met u sal ons na u volk terugkeer.”—Rut 1:8-10.

Maar dit was nie so maklik om Naomi van gedagte te laat verander nie. Sy het oortuigend geredeneer dat daar min is wat sy vir hulle in Israel kon doen, aangesien sy nie ’n man gehad het om vir haar te sorg nie, geen seuns gehad het met wie hulle kon trou nie en ook geen vooruitsig daarvoor gehad het nie. Sy het gesê dat haar onvermoë om vir hulle te sorg ’n bron van groot bitterheid vir haar is.—Rut 1:11-13.

Naomi se woorde het vir Orpa sin gemaak. Sy het familie in Moab gehad, ’n ma, en ’n huis waarna sy kon terugkeer. Dit het werklik praktieser gelyk om in Moab te bly. Sy het Naomi met ’n swaar hart totsiens gesoen en teruggedraai.—Rut 1:14.

Wat van Rut? Die redes wat Naomi gegee het, was ook op haar van toepassing. En tog lees ons: “Wat Rut betref, sy het by haar gebly.” Miskien het Naomi aangestap, maar sy het opgemerk dat Rut haar volg. Sy het beswaar gemaak: “Kyk! Jou weduwee-skoonsuster het na haar volk en haar gode toe teruggekeer. Keer saam met jou weduwee-skoonsuster terug” (Rut 1:15). Naomi se woorde bring ’n belangrike feit aan die lig. Orpa het nie net na haar volk teruggekeer nie, maar ook na “haar gode”. Sy was tevrede daarmee om ’n aanbidder van Kamos en ander valse gode te bly. Was dit hoe Rut gevoel het?

Toe sy op daardie eensame pad na Naomi kyk, was daar geen onsekerheid of onduidelikheid in Rut se hart nie. Dit het oorgeloop van liefde vir Naomi—en vir die God wat Naomi gedien het. Sy het dus gesê: “Moenie by my pleit om u te verlaat nie, om terug te draai en u nie te vergesel nie; want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u oornag, sal ek oornag. U volk sal my volk wees, en u God my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word. Mag Jehovah so aan my doen en daaraan toevoeg as enigiets anders as die dood my en u sou skei.”—Rut 1:16, 17.

Rut se woorde is merkwaardig—soveel so dat dit ongeveer 3 000 jaar ná haar dood nog steeds bekend is. Dit gee volmaakte uitdrukking aan ’n kosbare eienskap, lojale liefde. Rut se liefde was so sterk en so lojaal, dat sy by Naomi sou bly, ongeag waar sy gegaan het. Net die dood kon hulle skei. Naomi se volk sou haar volk word, want Rut was bereid om alles wat sy in Moab geken het, agter te laat—selfs die Moabitiese gode. Anders as Orpa kon Rut heelhartig sê dat sy wou hê dat Naomi se God, Jehovah, ook haar God moet wees. *

Hulle het dus verder gereis, nou net die twee van hulle, op die lang pad na Betlehem. Volgens een skatting kon die reis tot ’n week geneem het. Maar elkeen het sekerlik in haar droefheid ’n mate van vertroosting in die geselskap van die ander gevind.

Daar is baie droefheid in hierdie wêreld. In ons tyd, wat die Bybel beskryf as ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, het ons te kampe met allerhande verliese en dinge wat ons bedroef (2 Timoteus 3:1). Die eienskap wat Rut aan die dag gelê het, het dus belangriker as ooit tevore geword. Lojale liefde—die soort liefde wat hom tot iets verbind en eenvoudig nie verbreek kan word nie—is ’n kragtige eienskap ten goede in hierdie donker wêreld. Ons het dit nodig in die huwelik, in gesinsverhoudings, in vriendskappe en in die Christengemeente. Wanneer ons hierdie soort liefde aankweek, volg ons die voortreflike voorbeeld van Rut na.

Rut en Naomi in Betlehem

Dit is natuurlik een ding om lojale liefde in woorde uit te druk; dit is iets heel anders om die daad by die woord te voeg. Rut het nie net nou die geleentheid gehad om lojale liefde teenoor Naomi te betoon nie, maar ook teenoor Jehovah, die God wat sy gekies het om te aanbid.

Die twee vroue het uiteindelik in Betlehem aangekom, ’n dorp ongeveer tien kilometer suid van Jerusalem. Naomi en haar familie was blykbaar baie bekend in daardie klein dorpie, want almal daar het gepraat oor die feit dat Naomi teruggekom het. Die vroue het na haar gekyk en gesê: “Is dit Naomi?” Klaarblyklik het haar verblyf in Moab haar baie verander; haar voorkoms en liggaamshouding het die tekens van jarelange swaarkry en droefheid gedra.—Rut 1:19.

Naomi het vir daardie familielede en buurvroue wat sy jare gelede geken het, vertel hoe bitter die lewe vir haar geword het. Sy het selfs gesê dat haar naam verander moet word van Naomi, wat “My aangenaamheid” beteken, na Mara, wat “Bitter” beteken. Arme Naomi! Baie soos Job voor haar het sy gedink dat Jehovah God die beproewinge oor haar gebring het.—Rut 1:20, 21; Job 2:10; 13:24-26.

Terwyl die twee vroue hulle in Betlehem tuisgemaak het, het Rut begin dink aan wat die beste manier sou wees om vir haarself en Naomi te sorg. Sy het geleer dat die Wet wat Jehovah aan sy volk Israel gegee het, ’n liefdevolle voorsiening vir die armes ingesluit het. Hulle is toegelaat om tydens die oestyd in die landerye in te gaan en die maaiers te volg en die oesoorblyfsels op te tel sowel as om dit wat op die rande van die landerye oorgebly het, bymekaar te maak. *Levitikus 19:9, 10; Deuteronomium 24:19-21.

Dit was die tyd van die garsoes, waarskynlik in April volgens ons moderne kalender, en Rut het na die landerye gegaan om te kyk wie haar sou toelaat om oesoorblyfsels op te tel. Sy het toevallig by die landerye van ’n man genaamd Boas gekom, ’n ryk grondeienaar en ’n familielid van Naomi se afgestorwe man, Elimeleg. Hoewel die Wet haar die reg gegee het om oesoorblyfsels in te samel, het sy dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie; sy het die jong man wat oor die snyers toesig gehou het, toestemming gevra om te werk. Hy het ingestem, en toe het Rut aan die werk gespring.—Rut 1:22–2:3, 7.

Stel jou voor hoe Rut die snyers volg. Terwyl hulle die gars met hulle vuursteensekels sny, het sy afgebuk om op te tel wat hulle laat val of agtergelaat het, die stingels in gerwe gebind en dit na ’n plek geneem waar sy later die graan kon uitslaan. Dit was stadige, uitputtende werk, en dit het moeiliker geword namate die oggend aangestap het. Maar Rut het aanhou werk en het slegs ’n blaaskans geneem om die sweet van haar wenkbrou af te vee en om ’n eenvoudige middagete te eet in “die huis”—waarskynlik ’n skuiling wat gebou is om vir die werkers skaduwee te bied.

Rut het waarskynlik nie gehoop of verwag om opgemerk te word nie—maar sy het nie ongemerk gebly nie. Boas het haar raakgesien en die jong voorman gevra wie sy is. Boas was ’n merkwaardige man van geloof en het sy werkers—van wie party dalk dagarbeiders of selfs uitlanders was—gegroet met die woorde: “Mag Jehovah met julle wees.” En hulle het hom op soortgelyke wyse gegroet. Hierdie ouer, geestelikgesinde man het vaderlike belangstelling in Rut getoon.—Rut 2:4-7.

Boas het Rut, wat hy “dogter” genoem het, aangeraai om aan te hou om na sy landerye te kom om oesoorblyfsels op te tel en naby die jong vroue van sy huishouding te bly sodat sy nie deur enige van die manne lastig geval sou word nie. Hy het seker gemaak dat sy kos vir middagete het. Maar bowenal het hy haar geprys en probeer aanmoedig. Hoe so?—Rut 2:8, 9, 14.

Toe Rut vir Boas vra wat sy, ’n uitlander, gedoen het om sy guns te geniet, het hy gesê dat hy gehoor het van alles wat sy vir haar skoonma, Naomi, gedoen het. Naomi het waarskynlik vir die vroue van Betlehem vertel hoe wonderlik haar geliefde Rut is, en Boas het hiervan te hore gekom. Hy het ook geweet dat Rut Jehovah begin aanbid het, want hy het gesê: “Mag Jehovah jou handelswyse beloon, en mag daar vir jou ’n volmaakte loon wees van Jehovah, die God van Israel, onder wie se vleuels jy toevlug kom soek het.”—Rut 2:12.

Hoe moes daardie woorde Rut tog bemoedig het! Sy het inderdaad besluit om toevlug onder Jehovah God se vleuels te soek, soos ’n jong voël wat veilig teenaan sy beskermende ouer sit. Sy het Boas bedank dat hy so gerusstellend met haar gepraat het. En sy het aanhou werk totdat dit donker geword het.—Rut 2:13, 17.

Rut se dade van geloof is vandag ’n voortreflike voorbeeld vir ons almal wat in hierdie moeilike ekonomiese tye sukkel om kop bo water te hou. Sy het nie gedink dat ander haar enigiets skuld nie en het dus alles waardeer wat sy ontvang het. Sy het dit glad nie as ’n skande beskou om lank en hard te werk ten behoewe van iemand vir wie sy lief was nie, al was dit nederige werk. Sy het wyse raad oor hoe om veilig en in goeie geselskap te werk met graagte aanvaar en toegepas. Sy het bowenal nie uit die oog verloor wie haar ware toevlug is nie—haar beskermende Vader, Jehovah God.

As ons, soos Rut, lojale liefde betoon en haar voorbeeld van nederigheid, vlytigheid en waardering navolg, sal ons geloof ook ’n voortreflike voorbeeld vir ander word. Maar hoe het Jehovah vir Rut en Naomi gesorg? Ons sal dié vraag in ’n toekomstige artikel in hierdie reeks beantwoord.

[Voetnote]

^ par. 22 Dit is opmerkenswaardig dat Rut, anders as baie uitlanders, nie net die onpersoonlike titel “God” gebruik het nie; sy het ook God se persoonlike naam, Jehovah, gebruik. The Interpreter’s Bible sê: “Die skrywer beklemtoon sodoende dat hierdie uitlander die ware God aangehang het.”

^ par. 29 Dit was ’n merkwaardige wet, beslis anders as enigiets waarmee Rut in haar geboorteland vertroud was. In die eertydse Nabye Ooste is weduwees sleg behandel. Een naslaanwerk sê: “Ná haar man se dood was ’n weduwee gewoonlik van haar seuns afhanklik om vir haar te sorg; as sy nie seuns gehad het nie, sou sy haar dalk as ’n slaaf moes verkoop, ’n prostituut word of sterf.”

[Venster op bladsy 26]

’n Meesterstuk in die kleine

Die boek Rut is al beskryf as ’n klein juweel, ’n meesterstuk in die kleine. Die boek het natuurlik nie die omvang van die boek Rigters, wat dit voorafgaan en ’n aanduiding gee van wanneer die gebeure in Rut plaasgevind het nie (Rut 1:1). Albei boeke is klaarblyklik deur die profeet Samuel geskryf. Maar terwyl jy deur die Bybel lees, sal jy dalk saamstem dat die boek Rut op ’n uiters gepaste plek in die Bybelkanon geplaas is. Nadat ’n mens van die oorloë, strooptogte en teenaanvalle gelees het wat in die boek Rigters opgeteken is, vind jy hierdie klein boek wat ons daaraan herinner dat Jehovah nooit vergeet van vreedsame mense wat met alledaagse probleme worstel nie. Hierdie eenvoudige familiedrama bevat belangrike lesse oor liefde, verlies, geloof en lojaliteit waarby ons almal kan baat vind.

[Prent op bladsy 24]

Rut het wyslik haar verhouding met Naomi versterk toe sy ’n verlies gely en getreur het

[Prent op bladsye 24, 25]

“U volk sal my volk wees, en u God my God”

[Prent op bladsy 27]

Rut was bereid om harde, nederige werk te doen om vir haarself en Naomi te sorg