Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEWENSVERHAAL

’n Bevredigende lewe in God se diens

’n Bevredigende lewe in God se diens

Ek het van jongs af te kampe gehad met rassevooroordeel en ’n vrees vir mislukking. Boonop was ek baie skugter. In die hoop om vertroosting uit die Bybel te kry, het ek na ons plaaslike Katolieke Kerk gegaan vir hulp om die Bybel te verstaan. Toe ek geen hulp ontvang nie, het ek op sport begin konsentreer.

Ek het kort voor lank betrokke geraak by gimnastiek en spierbou. Later het ek ’n gesondheidsklub geopen in San Leandro, Kalifornië, VSA, en met spierbouers gewerk, insluitende een wat die Mnr. Amerika-titel gewen het. Maar om ’n gespierde liggaam te ontwikkel, het nie die leemte in my gevul nie.

MY SOEKE WORD BELOON

’n Vriend by my klub het geweet dat ek graag die Bybel wil verstaan en het voorgestel dat ek iemand ontmoet wat hy ken. Die volgende oggend het een van Jehovah se Getuies na my huis gekom. Hy het vier uur lank my vrae uit die Bybel beantwoord. Ek het hom gevra om daardie selfde aand weer te kom, en ons het tot middernag ’n Bybelbespreking gehad. Ek was baie bly oor wat ek geleer het en het gevra of ek die volgende dag saam met hom kon gaan om te sien hoe hy die predikingswerk doen. Ek was verbaas oor hoe hy die Bybel kon oopmaak en mense die antwoorde op hulle vrae kon wys. Dít, het ek besluit, is wat ek wil doen!

Ek het dus my besigheid verkoop en my dae in die bediening deurgebring saam met hierdie pionier, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. In Mei 1948 is ek gedoop by ’n streekbyeenkoms in die Cow Palace-arena in San Francisco, Kalifornië. Later daardie jaar het ek self ’n pionier geword.

Intussen het ek die Getuies gevra om my ma te besoek. Sy het gunstig gereageer en het kort voor lank een van Jehovah se Getuies geword. Ten spyte van teenstand van haar familie het sy God getrou gedien tot haar dood baie jare later. Nie een van ons ander familielede het Getuies geword nie.

EK ONTMOET MY TOEKOMSTIGE VROU

In 1950 het ek getrek na Grand Junction, Colorado, waar ek Billie ontmoet het. Sy is in 1928 gebore en het gedurende die Groot Depressie grootgeword. Haar ma, Minnie, het elke aand by ’n flikkerende paraffienlamp vir haar uit die Bybel gelees. Billie kon al lees toe sy vier was, en sy het baie Bybelverhale uit haar kop geken. Haar ma het in die laat 1940’s in haar Bybelstudie saam met die Getuies geleer dat die hel nie ’n plek van foltering is nie, maar die mensdom se gemeenskaplike graf (Prediker 9:5, 10). Minnie sowel as haar man het Getuies geword.

In 1949 het Billie teruggekeer van Boston, waar sy op kollege was, en die Bybel ywerig begin studeer. Sy het besluit om haar lewe aan God toe te wy en om nie meer ’n onderwyseres te word nie. Sy is gedoop by die internasionale byeenkoms van Jehovah  se Getuies wat in 1950 by die Yankee-stadion in New York gehou is. Nie lank daarna nie het ons ontmoet, getrou en as ’n egpaar met die voltydse bediening begin.

Ons eerste toewysing was in Eugene, Oregon, en ons het talle lewenslange vriendskappe aangeknoop. In 1953 het ons na Grants Pass, Oregon, getrek om die klein gemeente daar te help. Later daardie jaar is ons genooi na die 23ste klas van Gilead, die Getuies se opleidingskool vir sendelinge, naby South Lansing, New York, sowat 400 kilometer noordwes van die stad New York.

SENDINGWERK IN BRASILIË

In Desember 1954, vyf maande nadat ons aan die Gileadskool gegradueer het, het ek en Billie in ’n tweemotorige vliegtuig na Brasilië vertrek. ’n Uur nadat ons opgestyg het, het een van die motore gaan staan, maar ons het veilig in Bermuda geland. Ná nog ’n noodlanding in Kuba en ’n uitputtende rit van 36 uur het ons by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Rio de Janeiro, Brasilië, aangekom.

Die eerste Koninkryksaal in Bauru—’n gehuurde plek met ’n naambord wat ek self geverf het, 1955

Kort daarna het ek en Billie, saam met twee ander sendelinge, vertrek na Bauru, São Paulo, om sendingwerk te doen. Die stad het ’n bevolking van meer as 50 000 gehad, en ons was die eerste Getuies daar.

Ons het mense by hulle huise begin besoek, maar die plaaslike Katolieke priester het ons werk onmiddellik begin teëstaan. Hy het agter ons aan geloop en die huisbewoners gewaarsku om nie na ons te luister nie. Maar binne ’n paar weke het ’n groot gesin met wie ons gestudeer het, Bybelwaarheid aangeneem, en hulle is later gedoop. Kort voor lank het ander ook begin studeer.

Die gedoopte gesin het ’n familielid gehad wat die president van ’n vooraanstaande klub was. Ek het reëlings getref om die klub se fasiliteite te gebruik om ’n byeenkoms te hou. Toe die plaaslike priester daarop aandring dat die kontrak gekanselleer word, het die president met die klublede vergader en vir hulle gesê: “As julle kanselleer, bedank ek!” Die byeenkoms is goedgekeur.

Die volgende jaar, 1956, is ons na die streekbyeenkoms in Santos, São Paulo, genooi. Byna 40 Getuies van ons gemeente het met die trein daarheen gereis. Toe ons na Bauru teruggekeer het, het ek ’n brief in die pos ontvang waarin ek toegewys is om gemeentes van Jehovah se Getuies as reisende opsiener te besoek. So het ’n loopbaan van byna 25 jaar in Brasilië begin, waartydens ons die meeste dele van hierdie uitgestrekte land deurkruis het.

Binne ’n jaar het ons ’n ywerige groep Koninkryksverkondigers in Bauru gehad

HOE DIE BEDIENING WAS

In daardie dae was dit moeilik om te reis. Ons het uiteindelik feitlik die hele land per bus, trein, wa en fiets, sowel as te voet, deurkruis. Een van die eerste stede wat ons besoek het, was Jaú, São Paulo. Daar het die priester ons werk teëgestaan.

“Julle kan nie vir ‘my skape’ preek nie!” het hy gesê.

“Hulle behoort nie aan jou nie”, het ons geantwoord. “Hulle behoort aan God.”

Ons het gereël om ’n rolprent oor ons wêreldwye predikingswerk, The New World Society in Action, te vertoon, maar die priester het ’n groep mense opgesweep om ons aan te val. Ons het die polisie onmiddellik in kennis gestel. Toe die priester en sy groep gemeentelede by die teater aankom, het hulle hulle vasgeloop in ’n muur polisiemanne met vuurwapens wat op die groep gerig was. Die groot gehoor het die rolprent baie geniet.

 Feitlik oral waar ons destyds gedien het, het hierdie selfde atmosfeer van godsdienshaat en teenstand geheers. Byvoorbeeld, in Brusque, naby Blumenau, Santa Catarina, het ons twee pioniers ontmoet wat met hewige teenstand te kampe gehad het. Maar hulle is ryklik beloon vir hulle getrouheid en volharding. Daar is nou, meer as 50 jaar later, meer as 60 florerende gemeentes in daardie streek sowel as ’n pragtige Byeenkomssaal in die nabygeleë stad Itajaí!

’n Hoogtepunt van ons reisende werk was die wonderlike tyd wat ons saam met mede-Getuies deurgebring het om voorbereidings te tref vir groot streekbyeenkomste. In die 1970’s het ek die voorreg gehad om as die byeenkomsopsiener by die groot Morumbi-stadion te dien. ’n Versoek is gerig aan omtrent honderd nabygeleë gemeentes om elk tien mense te stuur om die stadion die aand voor die byeenkoms skoon te maak.

Toe die sokkerspelers die stadion daardie aand verlaat het, het party spottenderwys gesê: “Kyk al die vroutjies met hulle besems en moppe.” Maar teen middernag was die hele stadion skoon! Die stadionbestuurder het uitgeroep: “Dit sou my span ’n hele week geneem het om te doen wat julle as Getuies in net ’n paar uur gedoen het!”

ONS KEER TERUG NA DIE VERENIGDE STATE

My pa is in 1980 oorlede, en ons het kort daarna teruggekeer na die Verenigde State om na my ma om te sien in Fremont, Kalifornië. Ons het werk gekry wat behels het dat ons saans geboue skoonmaak en het aanhou pionier en die Portugese mense in die gebied gehelp. Later het ons getrek na die nabygeleë San Joaquin-vallei, waar ons na Portugese mense gesoek het in die uitgestrekte gebied van Sacramento tot by Bakersfield. Nou is daar ongeveer tien Portugese gemeentes in Kalifornië.

Ná my ma se dood in 1995 het ons na Florida getrek en na Billie se pa omgesien totdat hy oorlede is. Haar ma is in 1975 oorlede. In 2000 het ons na die hoogliggende woestyngebied in die suidweste van Colorado getrek, waar ons voltyds gepreek het vir die Indiane in die Navajo- en die Ute-reservaat in die gebied. Ongelukkig het Billie in Februarie 2014 gesterf.

Hoe bly is ek tog dat ek 65 jaar gelede een van Jehovah se Getuies ontmoet het wat my talle vrae uit die Bybel beantwoord het! Ek is veral bly dat ek seker gemaak het dat wat hy gesê het, werklik is wat die Bybel leer. Dit het gelei tot ’n bevredigende lewe in God se diens.