Spring na inhoud

VOLG HULLE GELOOF NA | JONATAN

Niks kan Jehovah keer nie

Niks kan Jehovah keer nie

 Stel jou die volgende voor: ’n Klein militêre kamp kyk uit oor ’n uitgedroogde, rotsagtige landskap. Die Filistynse soldate in daardie kamp sien iets in die verte wat hulle aandag trek: Hulle kan duidelik twee Israelitiese mans aan die ander kant van die kloof sien staan. Vir die soldate is dit ’n groot grap — hulle sien geen gevaar nie. Die Filistyne oorheers die Israeliete al ’n lang tyd. Die Israeliete kan nie eens hulle plaasgereedskap skerp maak sonder om na hulle Filistynse vyande te gaan om hulle te help nie. En daarom het die Israelitiese soldate nie juis veel wapens nie. Wat meer is, dit is maar net twee mans! Selfs al was hulle gewapende soldate, wat kon hulle nou eintlik doen? Die Filistyne spot met hulle en roep uit: “Kom na ons toe op, en ons sal julle iets wys!” — 1 Samuel 13:19-23; 14:11, 12.

 Die Filistyne wou hierdie twee mans ’n les leer, maar op die ou end sou dit hulle wees wat ’n les geleer sou word. Die twee Israeliete het teen die steilte afgehardloop, die kloof oorgesteek, en toe teen die ander kant begin opklim. Die opdraand was so steil dat hulle met hulle hande en voete moes klim, maar dit het hulle nie gekeer nie. Hulle het oor die rotse geklouter en was reguit op pad na die Filistynse kamp toe! (1 Samuel 14:13). Die Filistyne kon nou sien dat die man wat voor gehardloop het, gewapen is, en sy wapendraer was kort op sy hakke. Was hierdie man en sy wapendraer regtig van plan om hierdie hele groep soldate aan te val? Was die man mal?

 Hy was nie mal nie, hy was ’n man van sterk geloof. Sy naam was Jonatan, en sy verhaal het baie lesse vir ware Christene van vandag. Alhoewel ons nie aan oorlog deelneem nie, kan ons baie by Jonatan leer oor die soort moed, lojaliteit en onselfsugtigheid wat ons nodig het om ware geloof op te bou. — Jesaja 2:4; Matteus 26:51, 52.

’n Lojale seun en dapper soldaat

 Om te verstaan hoekom Jonatan daardie kamp soldate wou aanval, moet ons eers ’n bietjie meer oor hom uitvind. Jonatan was die oudste seun van Saul, die eerste koning van Israel. Toe Saul as koning gesalf is, was Jonatan alreeds ’n man van omtrent 20 jaar of selfs ouer. Dit lyk asof Jonatan ’n sterk verhouding met sy pa gehad het. Sy pa het dikwels met hom oor persoonlike dinge gepraat. In daardie vroeë dae, het Jonatan sy pa geken, nie net as ’n lang, aantreklike man en dapper soldaat nie, maar nog belangriker, as ’n man van geloof en nederigheid. Jonatan kon sien hoekom Jehovah Saul gekies het om koning te wees. Selfs die profeet Samuel het gesê dat daar in die hele land niemand soos Saul was nie! — 1 Samuel 9:1, 2, 21; 10:20-24; 20:2.

 Dit was seker vir Jonatan ’n groot eer om onder sy pa se bevel te veg teen die vyande van Jehovah se volk. Daardie oorloë was nie soos die nasionalistiese oorloë van vandag nie. In daardie dae het Jehovah die nasie Israel gekies om hom te verteenwoordig, en hulle is heeltyd aangeval deur nasies wat valse gode aanbid het. Die Filistyne, wat baie sleg was omdat hulle gode soos Dagon aanbid het, het baie keer probeer om Jehovah se volk te onderdruk en selfs te vernietig.

 Om in hierdie oorloë te veg was vir manne soos Jonatan ’n manier om Jehovah God lojaal te dien. En Jehovah het Jonatan geseën vir wat hy gedoen het. Kort nadat Saul koning geword het, het hy sy seun oor 1 000 soldate aangestel. Hierdie soldate het onder Jonatan se bevel ’n groep Filistynse soldate by Geba aangeval. Alhoewel die Israeliete min wapens gehad het, het Jehovah vir Jonatan gehelp om die geveg te wen. In reaksie hierop het die Filistyne ’n groot groep soldate bymekaargemaak. Baie van Saul se manne was doodbang. Party het weggehardloop en weggekruip, en ander het selfs vir die Filistyne gaan veg! Maar Jonatan het nooit moed verloor nie. — 1 Samuel 13:2-7; 14:21.

 Op die dag wat aan die begin van hierdie artikel beskryf is, het Jonatan besluit om stilletjies weg te glip. Hy het net sy wapendraer saamgeneem. Toe hulle naby die Filistynse kamp by Migmas was, het Jonatan vir sy wapendraer van sy plan vertel. Hulle sou seker maak dat die Filistynse soldate daarbo hulle duidelik kon sien. As die Filistyne hulle uitgedaag het om op te kom, sou dit ’n teken wees dat Jehovah sy knegte sal help. Die wapendraer het dadelik saamgestem, miskien omdat hy beweeg is deur Jonatan se kragtige woorde: “Daar is geen hindernis vir Jehovah om deur baie of deur min te red nie” (1 Samuel 14:6-10). Wat het hy bedoel?

 Dit is duidelik dat Jonatan sy God goed geken het. Hy het goed geweet dat Jehovah in die verlede sy knegte gehelp het om hulle vyande wat baie meer as hulle was, te oorwin. Somtyds het Jehovah selfs net een persoon gebruik om die vyand te oorwin (Rigters 3:31; 4:1-23; 16:23-30). Daarom het Jonatan geweet dat dit nie saak maak hoeveel van God se knegte daar was, hoe sterk hulle was of hoeveel wapens hulle gehad het nie. Al wat saak gemaak het, was hulle geloof. Omdat Jonatan geloof gehad het, het hy Jehovah laat besluit of hy en sy wapendraer die kamp moes aanval. Hy het ’n teken gekies waardeur Jehovah kon wys dat hy Jonatan se plan goedkeur. Toe Jonatan hierdie goedkeuring kry, het hy die vyand vreesloos aangeval.

 Kyk na twee aspekte van Jonatan se geloof. Eerstens het hy groot ontsag en diep respek vir sy God, Jehovah, gehad. Hy het geweet dat God die Almagtige nie mense nodig het om sy wil uit te voer nie. Maar dit maak Jehovah tog bly om mense wat hom getrou dien, te seën (2 Kronieke 16:9). Tweedens het Jonatan bewyse van Jehovah se goedkeuring gesoek voordat hy iets gedoen het. Vandag soek ons nie na bonatuurlike tekens van ons God om seker te maak dat hy ons besluite goedkeur nie. Omdat ons die hele geïnspireerde Woord van God het, het ons alles wat ons nodig het om uit te vind wat God se wil is (2 Timoteus 3:16, 17). Gaan ons na die Bybel vir raad voordat ons belangrike besluite maak? As ons dit doen, wys ons, net soos Jonatan, dat God se wil vir ons belangriker is as ons eie wil.

 Die twee mans, Jonatan en sy wapendraer, het toe vinnig teen die steil opdraand geklim om die Filistynse kamp aan te val. Toe die Filistyne besef dat hulle aangeval word, het hulle manne uitgestuur om die twee aanvallers te keer. Die Filistyne het nie net baie meer soldate gehad nie, maar hulle was ook hoër op teen die berg. Daarom sou hulle die twee aanvallers maklik kon doodmaak. Maar Jonatan en sy wapendraer het een soldaat ná die ander doodgemaak. Binne net ’n kort afstand het die twee mans 20 soldate van die vyand uitgeroei! En Jehovah het nog iets gedoen. Ons lees: “Toe het daar ’n bewing in die kamp in die veld en onder al die manskappe van die voorpos ontstaan; en die stroopbende het gebewe, ja hulle, en die aarde het begin skud, en dit het ’n bewing geword wat van God kom.” — 1 Samuel 14:15.

Jonatan en sy wapendraer het ’n hele kamp gewapende soldate aangeval

 Saul en sy manne het op ’n afstand gestaan en kyk terwyl chaos en paniek onder die Filistyne versprei het, wat selfs teen mekaar begin veg het! (1 Samuel 14:16, 20). Toe die Israeliete dit sien, het hulle weer moedig geword en ook begin aanval. Hulle het dalk die wapens van die dooie Filistyne gebruik om te veg. Op daardie dag het Jehovah sy volk ’n groot oorwinning gegee. En Jehovah het nie verander nie. As ons soos Jonatan en sy wapendraer geloof in Jehovah stel, sal ons nooit spyt wees nie. — Maleagi 3:6; Romeine 10:11.

‘Hy het saam met God gewerk’

 Vir Saul het dinge nie so goed uitgedraai soos vir Jonatan nie. Saul het ’n paar ernstige foute gemaak. Hy was ongehoorsaam aan Jehovah se profeet Samuel deur ’n offerande te bring wat die profeet, wat ook ’n Leviet was, veronderstel was om te bring. Toe Samuel daar aankom, het hy vir Saul gesê dat sy koninkryk nie staande sou bly nie omdat hy ongehoorsaam was. Daarna, toe Saul sy manne uitgestuur het om te gaan veg, het hy onverstandig opgetree deur hulle eers onder ’n eed te stel: “Vervloek is die man wat brood eet voor die aand en voordat ek op my vyande wraak geneem het!” — 1 Samuel 13:10-14; 14:24.

 Saul se woorde het gewys dat hy besig was om te verander. Was hierdie nederige, geestelike man besig om selfsugtig en hoogmoedig te word? Jehovah het mos nooit gesê dat so ’n onredelike beperking op daardie dapper, hardwerkende soldate gestel moet word nie. En wat van Saul se woorde “voordat ek op my vyande wraak geneem het”? Beteken dit dat Saul gedink het dat die oorlog alles net oor hom gegaan het? Het Saul vergeet dat dit oor Jehovah se geregtigheid gaan en nie oor sy eie begeerte na wraak, ’n groot naam of oorwinning nie?

 Jonatan het niks van sy pa se onredelike eed geweet nie. Ná die intense geveg was hy baie moeg, en daarom het hy sy staf gevat en dit in ’n heuningkoek gesteek en ’n bietjie heuning geproe. Hy het onmiddellik gevoel hoe sy krag terugkeer. Toe vertel een van sy manne hom dat sy pa hulle verbied het om enigiets te eet. Jonatan het toe gesê: “My vader het die land in die ongeluk gestort. Kyk asseblief hoe my oë gestraal het omdat ek hierdie klein bietjie heuning geproe het. Hoeveel te meer as die manskappe vandag maar net geëet het van die buit van hulle vyande wat hulle gevind het! Want nou was die slagting onder die Filistyne nie groot nie” (1 Samuel 14:25-30). Hy was reg. Jonatan was ’n lojale seun, maar sy lojaliteit het hom nie blind gemaak nie. Hy het nie blindelings saamgegaan met alles wat sy pa gesê en gedoen het nie, en daarom het ander hom gerespekteer.

 Toe Saul uitvind dat Jonatan sy eed verbreek het, wou hy nog steeds nie erken dat sy bevel dom was nie. Hy wou selfs hê dat sy eie seun doodgemaak moet word! Jonatan het nie gestry of vir genade gesmeek nie. Let op hoe hy geantwoord het. Hy het gesê: “Hier is ek! Laat ek sterf!” Maar die Israeliete het gesê: “Moet Jonatan sterf, wat hierdie groot redding in Israel bewerk het? Dit is ondenkbaar! So waar as Jehovah lewe, nie eens ’n enkele haar van sy kop sal op die aarde val nie; want hy het vandag saam met God gewerk.” Wat het toe gebeur? Saul het na hulle geluister. Die verslag sê: “Daarop het die manskappe Jonatan losgekoop, en hy het nie gesterf nie.” — 1 Samuel 14:43-45.

“Hier is ek! Laat ek sterf!”

 Omdat Jonatan dapper, hardwerkend en onselfsugtig was, het hy ’n goeie reputasie opgebou. Toe hy in gevaar was, het sy reputasie hom gered. Dit is goed as ons dink oor watter soort reputasie ons vir onsself opbou. Die Bybel sê dat ’n goeie naam baie kosbaar is (Prediker 7:1). As ons, soos Jonatan, ons bes doen om ’n goeie naam by Jehovah te maak, sal ons reputasie vir ons iets baie kosbaars word.

Dinge word net erger

 Alhoewel Saul baie foute gehad het, het Jonatan jaar na jaar lojaal saam met sy pa teen hulle vyande bly veg. Ons kan ons net indink hoe ontsteld Jonatan moes gewees het om te sien dat sy pa ongehoorsaam en trots begin word het. Iets slegs was besig om in sy pa se hart te groei, en daar was niks wat Jonatan kon doen om dit te keer nie.

 Hierdie probleem kon duidelik gesien word toe Jehovah Saul gevra het om teen die Amalekiete oorlog te voer. Die Amalekiete was so sleg dat Jehovah reeds in Moses se tyd voorspel het dat die hele nasie uitgeroei sou word (Eksodus 17:14). Saul is gevra om al hulle diere sowel as hulle koning, Agag, dood te maak. Saul het die oorlog gewen, heel moontlik met Jonatan wat soos gewoonlik onder sy pa se bevel geveg het. Maar Saul was uit en uit ongehoorsaam aan Jehovah, hy het Agag se lewe gespaar en hy het ook nie al die diere doodgemaak nie. Die profeet Samuel het Jehovah se finale oordeel oor Saul gegee en gesê: “Aangesien jy die woord van Jehovah verwerp het, verwerp hy jou ook as koning.” — 1 Samuel 15:2, 3, 9, 10, 23.

 Jehovah het kort daarna sy heilige gees van Saul weggeneem. Sonder Jehovah se gees het Saul gesukkel met sy emosies, hy het woede-uitbarstings gehad en hy het soms baie bang geword. Dit was asof ’n slegte gees van God die goeie een vervang het (1 Samuel 16:14; 18:10-12). Hoe hartseer moes dit tog vir Jonatan gewees het om te sien dat sy pa, wat eers ’n goeie man was, besig was om sleg te word! Maar Jonatan het nooit opgehou om Jehovah lojaal te dien nie. Hy het sy bes probeer om sy pa te ondersteun en hy het soms baie reguit met hom gepraat, maar hy het bly fokus op sy God en Vader, Jehovah, wat nooit verander nie. — 1 Samuel 19:4, 5.

 Het jy al ooit gesien hoe iemand vir wie jy lief is, dalk iemand in jou familie, verander en ’n slegte lewe begin lei? Dit kan ’n mens baie seermaak. Jonatan se voorbeeld laat ons dink aan wat die psalmis later geskryf het: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem” (Psalm 27:10). Jehovah is lojaal. Hy sal ook vir jou sorg en vir jou die beste Vader ooit wees, maak nie saak wat onvolmaakte mense doen om jou teleur te stel nie.

 Jonatan het heel moontlik uitgevind dat Jehovah die koningskap van Saul wou wegneem. Hoe het Jonatan gereageer? Het hy ooit gewonder watter soort koning hy sou wees? Het hy gehoop dat hy van sy pa se foute kon regstel deur ’n beter voorbeeld te wees as ’n lojale en gehoorsame koning? Ons weet nie wat sy diepste gedagtes was nie. Ons weet net dat as hy vir sulke dinge gehoop het, dit nooit ’n werklikheid geword het nie. Beteken dit dat Jehovah hierdie getroue man in die steek gelaat het? Glad nie. Jehovah het Jonatan gebruik as een van die beste voorbeelde van lojale vriendskap wat ’n mens in die Bybel kan vind! Hierdie vriendskap sal in ’n volgende artikel oor Jonatan bespreek word.