Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek met my ouers oor die weg kom?

Hoe kan ek met my ouers oor die weg kom?

 Vasvra oor stryery

  •   Met watter ouer is jy meer geneig om te stry?

    •  Pa

    •  Ma

  •   Hoe dikwels stry jy met daardie ouer?

    •  Selde

    •  Soms

    •  Baie

  •   Wat sal waarskynlik gebeur wanneer julle stry?

    •  Ons sal die probleem gou en vreedsaam oplos.

    •  Ons sal dit oplos, maar slegs ná ’n groot argument.

    •  Ons sal dit nie oplos nie—nie eens ná ’n groot argument nie.

 As jy net nie met jou ouers oor die weg kan kom nie, dink jy dalk dat húlle iets moet doen om die situasie te verbeter. Maar soos ons sal sien, kan jy sekere stappe neem sodat julle minder met mekaar sal stry en makliker ’n oplossing sal vind. Kyk eers . . .

 Waarom dit gebeur

  •   Denkvermoë. Namate jy grootword, begin jy dieper oor dinge nadink as toe jy ’n kind was. Jy begin ook sterk oortuigings vorm—waarvan party dalk van jou ouers s’n verskil. Die Bybel sê nogtans: “Eer jou vader en jou moeder.”—Eksodus 20:12.

     Lewenswaarheid: Dit verg volwassenheid en bekwaamheid om van iemand te verskil sonder om ’n geskil te veroorsaak.

  •   Onafhanklikheid. Namate jy ouer word, sal jou ouers jou waarskynlik meer vryheid gee. Die probleem is dat jy dalk nie soveel vryheid kry as wat jy wil hê nie of dit so gou kry as wat jy dit wil hê nie—en dit kan tot konflik lei. Die Bybel sê nogtans: “Wees gehoorsaam aan julle ouers.”—Efesiërs 6:1.

     Lewenswaarheid: Hoeveel vryheid jou ouers jou gee, hang dikwels af van wat jy doen met die vryheid wat jy reeds het.

 Wat jy kan doen

  •   Konsentreer op jou rol. In plaas daarvan om jou ouers te blameer, kyk wat jy kan doen om vrede te maak. “Dit is nie altyd wat jou ouers sê nie, maar hoe jy daarop reageer wat tot ’n stryery bydra”, sê ’n jong man met die naam Jeffrey. “As jy op ’n kalm manier praat, kan dit baie help om die situasie te verbeter.”

     Die Bybel sê: “Wees, . . . sover dit van julle afhang, vreedsaam.”—Romeine 12:18.

  •   Luister. “Dít is vir my die moeilikste ding om te doen”, erken die 17-jarige Samantha. “Maar wanneer my ouers sien dat ek vir hulle luister, is hulle meer geneig om vir my te luister.”

     Die Bybel sê: ‘Wees gou om te hoor, stadig om te praat.’—Jakobus 1:19.

    Konflik is soos ’n vuur—as dit nie onder beheer gehou word nie, kan dit groot skade aanrig

  •   Dink soos ’n spanmaat. Benader ’n konflik soos jy ’n sport sou benader, byvoorbeeld ’n tenniswedstryd. Maar stel jou voor dat die probleem aan die ander kant van die net is—nie jou ouers nie. “In ’n konflik wil ouers hê wat hulle dink die beste is vir hulle tiener en die tiener wil hê wat hy dink die beste is vir hom”, sê ’n jong man met die naam Adam. “So hulle probeer eintlik dieselfde doel bereik.”

     Die Bybel sê: ‘Streef die dinge na wat vrede bevorder.’—Romeine 14:19.

  •   Toon begrip. “Ek vind dit nuttig om te onthou dat ouers hulle eie probleme het en dat hierdie probleme dikwels net so ingewikkeld is soos ons s’n”, sê ’n tiener met die naam Sarah. ’n Jong vrou met die naam Carla gaan selfs verder. “Ek probeer om my in my ouers se posisie te plaas”, sê sy. “Hoe sou ek voel as ek ’n ouer was en dieselfde situasie moes hanteer? Wat sou die beste wees vir my kind?”

     Die Bybel sê: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”—Filippense 2:4, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

  •   Wees gehoorsaam. Op die ou einde is dit wat die Bybel sê jy moet doen (Kolossense 3:20). En dan sal dinge baie makliker wees vir jou. “My lewe is minder stresvol wanneer ek net doen wat my ouers van my vra”, sê ’n jong vrou met die naam Karen. “Hulle het al baie opofferings vir my gemaak; so dis die minste wat ek kan doen.” Om gehoorsaam te wees, is een van die beste maniere om ’n konflik te voorkom!

     Die Bybel sê: “Waar daar geen hout is nie, gaan die vuur dood.”—Spreuke 26:20.

 Wenk. As dit vir jou moeilik is om te kommunikeer, kan jy jou gedagtes op ’n stukkie papier of in ’n teksboodskap skryf. “Ek doen dit wanneer ek nie in die regte gemoedstemming is om te praat nie”, sê ’n tiener met die naam Alyssa. “Dit help my om te sê wat ek dink sonder om te skreeu of iets te sê waaroor ek later spyt sal wees.”