IS DIT ONTWERP?
Die slak se klewerige slym
Dokters sien al lank dat daar ’n behoefte aan mediese gom in operasies is en om wonde gesond te maak. Baie van die gom wat vandag beskikbaar is, kan nie binne-in die liggaam gebruik word nie. Dit is giftig, dit word styf wanneer dit droog word, en dit sit nie vas aan nat weefsel nie. Deur die slym van ’n slak a te studeer, het wetenskaplikes ’n manier gevind om hierdie probleme op te los.
Dink hieraan: Wanneer ’n slak bedreig voel, skei die slak slym af wat taai genoeg is om hom aan ’n nat blaar te laat vassit. Hierdie manier waarop die slak homself verdedig, beskerm hom, en hy kan nog steeds sy liggaam op ’n beperkte manier beweeg.
Navorsers het die slym ondersoek en het ’n paar faktore ontdek wat bydra tot die doeltreffendheid van die slym as ’n natuurlike gom. Byvoorbeeld, die slym gebruik chemiese en elektrostatiese binding. Dit syfer deur die oppervlak waaraan die slak homself vasheg en is elasties wanneer dit onder druk gesit word. Navorsers het gom geskep deur ’n materiaal te ontwerp wat dieselfde eienskappe as slakslym het. Dit is op die oomblik sterker as enige mediese gom wat beskikbaar is en kan aan ’n lewende orgaan vassit. Daar word gesê dat dit “so goed aan organe [vasheg] soos kraakbeen aan been vasheg”.
Geleerdes glo dat hierdie gom een van die dinge kan word wat elke chirurg kan gebruik en nodig het. Dit kan ook die gebruik van steke en hegdraad uitskakel. Dit kan gebruik word om kraakbeen reg te maak of om mediese toestelle op die presiese plek waar dit in die liggaam nodig is, vas te heg. Toetse het alreeds bewys dat die gom ’n gat in ’n vark se hart kan toeseël en gaatjies in rotte se lewer kan toestop.
Wetenskaplikes vind dikwels wonderlike oplossings vir algemene probleme deur die natuur om ons te studeer. Donald Ingber, die direkteur van die instituut waar die sintetiese gom ontwikkel is, sê: “As ’n mens net om jou kyk en weet waar om te soek, kan jy ’n goeie idee raaksien.”
Wat dink jy? Het die natuurlike gom in slakslym deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?
a Die wetenskaplike naam is Arion subfuscus.