Spring na inhoud

Hoe word ek een van Jehovah se Getuies?

Hoe word ek een van Jehovah se Getuies?

 Jesus beskryf in Matteus 28:19, 20 wat ’n persoon moet doen om een van Jehovah se Getuies te word. Hierdie verse verduidelik wat ’n persoon moet doen om ’n dissipel van Christus te word, wat insluit dat hy of sy oor Jehovah praat of van hom getuig.

 Stap 1: Vind uit wat die Bybel leer. Jesus het sy dissipels die opdrag gegee om ‘dissipels te maak en hulle te leer’ (Matteus 28:19, 20). Die woord wat met “dissipel” vertaal word, beteken letterlik “’n leerling”. Die inligting in die Bybel, veral Jesus Christus se leringe, is al wat jy nodig het om ’n gelukkige en sinvolle lewe te hê (2 Timoteus 3:16, 17). Ons sal jou graag help om uit te vind wat die Bybel leer deur middel van ons gratis Bybelstudieprogram.—Matteus 10:7, 8; 1 Tessalonisense 2:13.

 Stap 2: Pas toe wat jy leer. Jesus het gesê dat dié wat leer, ook “alles [moet] onderhou wat [hy hulle] beveel het” (Matteus 28:20). Dit beteken dat jou studie van die Bybel meer as net ’n intellektuele oefening moet wees—dit mag selfs vereis dat jy betekenisvolle veranderinge in jou denke en gedrag maak (Handelinge 10:42; Efesiërs 4:22-29; Hebreërs 10:24, 25). Diegene wat Jesus se bevele onderhou, word beweeg om self te besluit om hom na te volg deur hulle lewe aan Jehovah God toe te wy.—Matteus 16:24.

 Stap 3: Word gedoop (Matteus 28:19). In die Bybel word doop met ’n begrafnis vergelyk. (Vergelyk Romeine 6:2-4.) Dit word simbolies gebruik om na die dood van ’n vorige lewenswyse en die begin van ’n nuwe een te verwys. Jou doop is dus ’n openbare bekendmaking dat jy die eerste twee stappe wat deur Jesus beskryf is, voltooi het en dat jy God vir ’n rein gewete vra.—Hebreërs 9:14; 1 Petrus 3:21.

Hoe weet ek of ek gereed is om gedoop te word?

 Praat met die gemeentelike ouer manne. Hulle sal met jou praat om seker te maak dat jy verstaan wat dit behels, dat jy toepas wat jy geleer het, en dat jy jouself uit vrye wil aan God toegewy het.—Handelinge 20:28; 1 Petrus 5:1-3.

Is hierdie stappe van toepassing op kinders van Getuie-ouers?

 Ja. Ons maak ons kinders groot “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah”, net soos die Bybel beveel (Efesiërs 6:4). Maar wanneer hulle ouer word, moet hulle self besluit om te leer wat die Bybel sê, om dit te aanvaar en om dit toe te pas voordat hulle aan die vereistes vir doop kan voldoen (Romeine 12:2). Op die ou end moet elke persoon sy eie keuse oor aanbidding maak.—Romeine 14:12; Galasiërs 6:5.