Spring na inhoud

Waarom reageer Jehovah se Getuies nie altyd wanneer hulle beskuldig word nie?

Waarom reageer Jehovah se Getuies nie altyd wanneer hulle beskuldig word nie?

 Jehovah se Getuies volg die Bybel se raad om nie elke keer te reageer wanneer iemand hulle beskuldig of bespot nie. ’n Bybelspreuk sê byvoorbeeld: “Hy wat die spotter bestraf, bring oneer oor homself” (Spreuke 9:7, 8; 26:4). In plaas daarvan om by ’n stryery betrokke te raak omdat ons uitermate besorg is oor valse beskuldigings, konsentreer ons eerder daarop om God gelukkig te maak.—Psalm 119:69.

 Daar is natuurlik “’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Prediker 3:7). Ons praat graag met opregte mense wat daarin belangstel om uit te vind wat die waarheid is, maar ons raak nie by sinnelose argumente betrokke nie. Ons volg dus die leringe en voorbeelde van Jesus en die vroeë Christene.

  •   Jesus het nie geantwoord toe hy valslik beskuldig is voor Pilatus nie (Matteus 27:11-14; 1 Petrus 2:21-23). Jesus het ook nie daarop gereageer toe hy daarvan beskuldig is dat hy ’n dronkaard en ’n vraat is nie. Hy het eerder ’n antwoord gegee deur die manier waarop hy opgetree het, in ooreenstemming met die beginsel: “Wysheid word deur sy werke geregverdig” (Matteus 11:19). Maar wanneer omstandighede dit vereis het, het hy diegene wat hom belaster het moedig geantwoord.—Matteus 15:1-3; Markus 3:22-30.

     Jesus het sy volgelinge geleer om nie deur valse beskuldigings ontmoedig te word nie. Hy het gesê: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my” (Matteus 5:11, 12). Maar wanneer sulke beskuldigings dit vir sy volgelinge moontlik sou maak om te getuig, sou Jesus sy belofte aan hulle nakom. Hy het gesê: “Ek sal aan julle ’n mond en wysheid gee, wat al julle teenstanders tesame nie sal kan weerstaan of betwis nie.”—Lukas 21:12-15.

  •   Die apostel Paulus het Christene aangeraai om sinnelose argumente met teenstanders te vermy en gesê dat sulke argumente “nutteloos en vergeefs” is.—Titus 3:9; Romeine 16:17, 18.

  •   Die apostel Petrus het Christene aangespoor om hulle geloof te verdedig wanneer dit ook al moontlik is (1 Petrus 3:15). Hy het egter erken dat dit gewoonlik beter is om dit deur jou dade te doen as deur jou woorde. Hy het geskryf: “Deur goed te doen, [sal julle] die onkundige praatjies van die onredelike mense stilmaak.”—1 Petrus 2:12-15.