Oor die seebodem na ons predikingsgebied
Aan die weskus van die Duitse provinsie Schleswig-Holstein woon ongeveer 300 mense op klein eilandjies in die Noordsee wat die Halligen genoem word. Hoe hoor hierdie mense die Bybel se boodskap wat Jehovah se Getuies verkondig?—Matteus 24:14.
Die Getuies reis per veerboot na party eilandjies. ’n Paar Getuies gebruik ’n unieke manier om mense op ander eilandjies te bereik—hulle loop ongeveer vyf kilometer oor die seebodem. Hoe is dit moontlik?
Hoe die getye die Getuies help
Die getye maak dit moontlik. Ongeveer elke ses uur styg of daal die watervlak in die Noordsee in die omgewing van die Halligen met ongeveer drie meter! Gedurende laagwater word groot dele van die seebodem sigbaar en die Getuies kan drie van die eilandjies te voet bereik.
Hoe voel dit om op die seebodem te loop? “Dit neem omtrent twee uur om een van die Halligen te bereik”, sê Ulrich, ’n ervare gids wat die groep lei. “Ons loop gewoonlik kaalvoet. Dit is die doeltreffendste en gemaklikste manier om oor die seebodem te loop. In koue weer dra ons stewels.”
Die landskap lyk dalk vreemd. “Dit voel dalk vir jou asof jy op ’n ander planeet is”, sê Ulrich. “Party dele van die seebodem is modderig, ander dele is rotsagtig en nog ander is met seegras bedek. Jy sien swerms seevoëls, krappe en ander diere.” Die groep moet soms deur getystrome loop wat in die moddervlaktes vorm. In Duits word hierdie strome Priele genoem.
Dit is egter nie ’n reis sonder uitdagings nie. Ulrich waarsku: “Jy kan maklik verdwaal, veral wanneer digte mis opkom. Daarom gebruik ons ’n kompas en ’n GPS en ons hou die getye fyn dop sodat ons nie deur hoogwater onkant betrap word nie.”
Is dit die moeite werd? Ulrich vertel van ’n man in sy negentigs wat Die Wagtoring en Ontwaak! gereeld lees. “Een dag het ons nie tyd gehad om die man te besoek nie. Maar voor ons kon vertrek, het die man op sy fiets daar aangekom en gesê: ‘Kry ek nie my Wagtoring nie?’ Ons was natuurlik baie bly dat ons dit vir hom kon gee.”