2 OKTOBER 2018
INDONESIË
Aardbewing en tsoenami verwoes Sulawesi, Indonesië
Op Vrydag 28 September het ’n aardbewing van 7,5 die Indonesiese eiland Sulawesi getref. Die aardbewing, en ’n tsoenami wat daarop gevolg het, het meer as 1 300 mense doodgemaak, waarvan die meeste in die stad Palu in Sentraal-Sulawesi was.
Die takkantoor in Indonesië, wat in Djakarta is, het laat weet dat al 80 verkondigers wat in die rampgebied woon, veilig is. ’n Paar verkondigers is beseer en moes hospitaal toe gaan vir behandeling. Een broer se huis is deur die ramp verwoes, en ’n hele paar huise van Getuies is erg beskadig. Die gebou wat die Palu-gemeente gebruik om hulle vergaderinge te hou, is ook beskadig.
Die Noodlenigingsafdeling by die takkantoor werk saam met die kringopsiener en gemeentes daar naby om die noodlenigingswerk te reël. Omdat die verkondigers in die rampgebied beperkte kos, water en ander basiese dinge het, het die takkantoor gereël dat drie gemeentes hierdie noodsaaklikhede aan hulle broers in Palu voorsien. Die plaaslike ouer manne sorg vir die verkondigers se geestelike, emosionele en fisiese behoeftes. ’n Lid van die Takkomitee, die opsiener van die Plaaslike Kantoor vir Ontwerp en Konstruksie en die kringopsiener in die gebied sal ook die verkondigers wat geraak is, besoek om hulle te vertroos en te ondersteun.
Ons bid vir ons broers en susters in Indonesië, en ons weet dat Jehovah altyd hulle “toevlug en sterkte” in hierdie moeilike tyd sal wees. — Psalm 46:1.