Spring na inhoud

Verteenwoordigers van Jehovah se Getuies vergader saam met die hoof van die Nasionale Menseregtekommissie van Korea om die land se program vir alternatiewe burgerlike diens te bespreek. Ná die vergadering het die kommissie ’n verslag vrygestel wat die kwessie bespreek

27 JANUARIE 2022
SUID-KOREA

Nasionale Menseregtekommissie van Korea vra vir aanpassings aan alternatiewe diens

Nasionale Menseregtekommissie van Korea vra vir aanpassings aan alternatiewe diens

’n Amptenaar vir menseregte in Suid-Korea het ’n amptelike verklaring gemaak en gesê dat die land se alternatiewe burgerlike diens (ACS) nie ooreenstem met huidige standaarde vir internasionale menseregte nie.

Op 2 Desember 2021 het die nuwe hoof van die Nasionale Menseregtekommissie van Korea (NHRCK), a voorsitter Song Doo-hwan, ’n verklaring op hulle webwerf uitgereik wat wys dat die ACS-stelsel moet verander. Suid-Korea het hulle alternatiewe burgerlike diens op 26 Oktober 2020 in werking gestel.

Hy het onder andere gesê: “Hoewel die ACS-stelsel ná die konstitusionele hof se besluit in 2018 bekend gestel is, stem ek regtig saam dat ons die stelsel moet verbeter om met internasionale standaarde van menseregte ooreen te stem . . .”

Die verklaring is gemaak nadat mnr. Song op 23 November 2021 ’n vergadering gehad het met verteenwoordigers van Suid-Korea se takkantoor van Jehovah se Getuies en die Asiaties-Pasifiese Vereniging van Jehovah se Getuies (APAJW). Die broers het mnr. Song ’n verslag gegee met die titel: “Alternatiewe burgerlike diens in Suid-Korea – 2021”, wat deur die APAJW voorberei is.

Die verslag verduidelik dat Suid-Korea se alternatiewe burgerlike diens internasionale standaarde skend. Die program duur 36 maande en is twee keer so lank as militêre diens. Dit vereis ook dat mense soos gevangenes moet lewe. Gewetensbeswaardes werk op die oomblik in tronke. Maar gedurende hulle eerste maand van diens mag hulle nie die tronkterrein verlaat nie. Daarna mag hulle net uitgaan as hulle toestemming kry en moet hulle teen 21:30 terug wees.

Die NHRCK is op die oomblik besig om versoeke te hersien van ACS-deelnemers wat vir aanpassings vra. Die NHRCK het nie die gesag om wette te verander nie, maar hulle kan wel aanbevelings maak by mense wat dit kan doen.

Ons word versterk deur die geloof en integriteit wat ons broers in Suid-Korea wys. Ons weet dat Jehovah hulle sal ondersteun. – Psalm 55:22.

a Die NHRCK is in 2001 gestig en is ’n organisasie wat menseregte verdedig.